Nuwe plan met jakkalse gee hoop

BB Jackal
'n Nuwe metode om veeverliese weens jakkalse te bekamp word gesoek. Foto: Niël Viljoen
deur Tisha Steyn
So lank as wat die mensdom al met vee boer voer hulle ՚n stryd teen roofdiere wat hulle diere vang. Die probleem is universeel en in Suid-Afrika is dit is nie net kleinveeboere wat daarmee sukkel nie, maar ook bees- en wildboere.
Boere het al baie planne beraam om hulle vee te beskerm, maar nie een van die metodes het tot dusver die probleem opgelos nie en daar word steeds gesoek na die antwoord.
Dit is nie net om humanitêre redes dat vee beskerm moet word nie – hoewel niks ՚n boer se hart meer breek as ՚n verskeurde lam nie! Dit kos boere miljoene rand aan regstreekse inkomste uit die verkoop van aanwas, asook verskuilde koste van hulpmiddels om die vee teen roofdiere te beskerm.

Dit sluit ook die verliese aan werksgeleenthede en verwante bedrywe in wat die ganse gemeenskap se voedselsekerheid kan bedreig. Net die regstreekse koste weens verliese in 2019 was R2 710-miljoen vir kleinvee en R511-miljoen vir grootvee.
Die grootste verliese word in die Noord-Kaap ondervind, terwyl die minste in die Wes-Kaap voorkom.
Jakkalse en rooikatte
In Suid-Afrika is dit jakkalse en rooikatte wat die ergste skade aan kleinveekuddes (Minnie et al 2018), veral tussen lamtyd en speentyd, veroorsaak, maar in sommige gebiede hou luiperds, bobbejane en selfs bosvarke ook ՚n bedreiging in.

Navorsers meen jakkalse en rooikatte het oorgeneem as die belangrikste roofdiere omdat groter spesies soos vrylopende leeus en hiënas, om nie eens te praat van wildehonde nie, grotendeels vankant gemaak is.
՚n Mens moet verstaan dat nie alle jakkalse en rooikatte skade veroorsaak nie, maar dat indiwiduele diere in ՚n sekere gebied ՚n voorliefde vir lammers ontwikkel, en dit is hierdie diere wat van die lammers af weggehou moet word.
Hulpmiddels
Deur die jare het boere op hulle eie of in samewerking met verskeie kundiges allerhande metodes uitgedink om hulle kuddes te probeer beskerm. Dit het daartoe gelei dat ՚n hele arsenaal gereedskap ontwikkel is wat onder sekere omstandighede, wat van plaas tot plaas verskil, min of meer suksesvol gebruik word.
Dit sluit metodes in soos slagysters en vanghokke, waarin diere wat daarin beland geskiet of soms elders vrygelaat word, en jagmetodes waar jakkalse in die nag met ՚n reeks geluide gelok en geskiet word.

Omdat boere moedeloos, maar nie harteloos is nie, is talle nie-dodelike hulpmiddels uitgedink. Daar is sagte slagysters wat nie die dier vermink nie en nie-teiken diere kan sonder probleme weer vrygelaat word. Verskillende soorte halsbande en ander toerusting wat jakkalse met lig en klank probeer afskrik word ook gebruik.
Halsbande op hulle eie het nie oor die langtermyn jakkalse verhoed om lammers te vang nie, want hulle het begin om die lam van die agterkant af aan te val. Halsbande vir gebruik op groot plase waar ekstensiewe veeboerdery bedryf word, is ook baie duur.
Herdershonde, donkies en alpakkas word gebruik om kuddes teen jakkalse en rooikatte te beskerm. Onlangse navorsing het getoon dat menslike skaapwagters wat altyd saam met hulle vee is en sorg dat die vee saans in ՚n kraal toegemaak word, die beste werk (Hawkins et al. 2023).
Alhoewel van die metodes en toerusting werk, is dit dikwels onprakties of te duur vir sommige boere. “Baie van die metodes is op die lang duur nie volhoubaar nie omdat die jakkalse en rooikatte daaraan gewoond raak,” sê Chavoux Luyt van die Cape Leopard Trust.
Die probleem neem toe

Navorsing het bewys dat die probleem nie afneem nie, maar eerder toeneem. Dit kan toegeskryf word daaraan dat die natuurlike balans in die natuur versteur is: die mense word meer en die plase groter. Die natuur moes deur die dekades wyk voor die boer en sy roer – en sy trekker.
Die grootste probleem is dat groter roofdiere verwyder is, wat die tafel gedek het vir jakkalse en rooikatte. Jakkalse wat voor die voet van kant gemaak word, werk nie: as die dominante jakkals uit die gebied verwyder word, trek ՚n ander een in. En die wyfies teel vir ՚n vale.
Baklei soos kat en hond
Richard Holmes, ՚n boer van die Cradock-omgewing in die Oos-Kaap, het ՚n ander plan gemaak. ՚n Oostenrykse navorser, dr Mircea Pfleiderer, het vir hom vertel dat rooikatte en jakkalse van altyd af vyande is en as daar meer rooikatte op die plaas is, sal hulle die jakkalsgetalle beheer.
Hy het rooikatte op buurplase gevang en op sy plaas vrygelaat en verliese weens jakkalse het onmiddellik van 50 tot ses per jaar gedaal. Daar is agt tot tien rooikatte vir elke vier tot ses jakkalse op sy plaas.

Dr Pfleiderer het vir navorsingsdoeleindes rooikatte aangehou en wanneer sy oorsee is, het Richard se vrou Marion hulle help versorg. Uiteindelik het die Holmes-egpaar self begin om vaalboskatte, tierboskatte en rooikatte te teel. Die mis in die hokke wat al om die ander dag verwyder word, word rondom die skaapkampe gestrooi en dit hou jakkalse weg.
Sedert daar ՚n gesonde balans tussen die jakkalse en rooikatte is, het ander kleinwildgetalle ook toegeneem en die roofdiere verkies nou springhase en klein bokkies eerder as lammers. “Hulle vang net ՚n lam as hulle niks anders in die hande kan kry nie,” sê Richard. Dis nogal baie anders as op ander plase waar die jakkalse se kos op plase meer as 70% uit kleinvee bestaan.
Nuwe plan
Tydens ՚n vergadering van die Predation Management Forum van die WesKaap is voorgestel dat ՚n doeltreffende afskrikmiddel wat aan die kleinvee gesmeer word, dalk ՚n oplossing kan bied.
Sommige boere het begin eksperimenteer met verskillende soorte middels wat aan lammers gesmeer word. Sommige gebruik wasgoedversagmiddel, ander, in die Hotazel-omgewing in die Noord-Kaap, smeer verdunde naskeermiddel aan, want dit ruik glo soos mens.

Chavoux sê navorsing word beplan om ‘n middel te vind wat aan lammers gesmeer of waarin hulle gedip kan word, soos met bosluisbeheer, sodat jakkalse begin dink lammers is nie meer lekker nie.
“’n Doeltreffende afskrikmiddel wat aan kleinvee gesmeer kan word, sal dalk die geskikste oplossing vir veeboere bied,” meen Chavoux. Die aansmeermiddels kan dalk ՚n gifstof wees, wat niemand regtig wil gebruik nie, of iets met ՚n reuk wat die roofdier sal weghou soos die urine of mis van ՚n groter of mededingende roofdier, of ՚n middel wat die roofdier se speekselkliere sal aantas. ՚n Middel wat soos bosluisdipmiddel aangewend word, sal meer volhoubaar op ekstensiewe plase gebruik kan word.
Omdat jakkalse gewoonlik so ՚n voorliefde vir kleinvee het, is dit nie seker of die aansmeermiddel op sigself sal werk nie, maar dit moet dalk gekombineer word met ander metodes, soos die gebruik van die e-shepherd, ՚n elektroniese apparaat wat soos ՚n virtuele heining werk om skape weg te hou van gevare.
Die doeltreffendheid en totale koste, wat arbeid insluit, sal vergelyk moet word met bestaande hulpmiddels soos byvoorbeeld Anatoliese herdershonde wat vee oppas, jakkalsbestande krale waar die vee snags gehou word, en herders, asook ՚n kontrolegroep waar geeneen van hierdie voorkomende maatreëls toegepas word nie.
Chavoux stel voor dat die toetse uitgevoer word op ՚n eksperimentele plaas in ՚n gebied met hoë veeverliese weens roofdiere. Hy stem saam met ander navorsers dat die afskrikmiddels eers op roofdiere in aanhouding getoets word voordat dit in die veld getoets word.

Die Rooivleis Navorsing- en Ontwikkelingstrust (RMRD SA) het geld beskikbaar gestel vir die navorsing. Dr Liaan Minnie van die Universiteit van Mpumalanga het onderneem om die projek te bestuur.
“Die projek is in die literatuuroorsigfase wat teen einde Junie sal klaar wees,” sê Liaan per e-pos. “Die doel van die oorsig is om die stand van sake in Suid-Afrika en internasionaal te bepaal en daarna ՚n voorstel vir die navorsing te ontwikkel.”
Hy stel voor dat ՚n nagraadse student die navorsing onderneem en ՚n projek voorstel met die befondsing in gedagte. ՚n Geskikte studiegebied vir die diere in aanhouding moet gevind word, asook die eksperimentele fase in die veld. “Dit is belangrik dat boere wat al sulke aansmeermidels gebruik het, die navorsers in kennis stel van hierdie middels sodat dit getoets kan word,” meen Liaan.
Leer meer
Om boere te help om met roofdiere saam te leef, bied die Cape Leopard Trust op 19 April ՚n kursus oor die holistiese beheer van roofdiere aan. Dit vind plaas by Bella de Karoo tussen Oudtshoorn en Calitzdorp.
Kontak Chavoux Luyt by communityoutreach@capeleopard.org.za of stuur ՚n WhatsApp-boodskap na 082-791-1384. Liaan Minnie kan gekontak word by liaan.minnie@gmail.com
Bronverwysings
E. du C. Luyt. Farming with Predators – An agroecological approach to humanwildlife conflict on Namibian farmlands. PhD thesis, Stellenbosch University, 2020, URL https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/108460
Heidi-Jayne Hawkins, Liaan Minnie, HN (Walter) van Niekerk, HO de Waal, Dave Balfour & Graham IH Kerley (2023) Shepherding is not a shot in the dark: evidence of low predation losses from the Northern Cape province of South Africa, African Journal of Range & Forage Science, DOI: 10.2989/10220119.2022.2156610 https://doi.org/10.2989/10220119.2022.2156610
Du Toit, J. (2013) Predator wars: Lynx vs Jackal. Karoo Space. https://karoospace.co.za/can-caracals-savesheep/
De Waal, H.O. (2022) Article 3: A review and estimation of the financial implications of livestock predation in South Africa. National Museum Publications https://nationalmuseumpublications.co.za/a-review-and-estimationof-the-financial-implications-oflivestock-predation-in-southafrica/#:~:text=The%20direct%20cost%20of%20predation,predation%20management%20in%20South%20Africa