Categories: News, WheelsPublished On: 2nd June 2017

Nuwe Mitshubisi Triton dubbelkajuit

By 6 min read
1081 words

triton-my17-1_1800x1800

Mitsubishi Motors Suid-Afrika het einde laasmaand hulle nuwe herontwerpte Triton dubbelkajuit bakkiereeks plaaslik bekendgestel en ons was daar. Die 2017-model, die vyfde generasie van die gewilde Colt/Triton-reeks, is volgens Mitsubishi die mees gevorderde bakkie wat Mitsubishi tot hede toe ontwikkel het.

Terwyl die Colt bakkie redelik gewild in Suid-Afrika was, het verkope van die daaropvolgende Triton-model nie juis stof opgeskop nie. Die vreemde ontwerp van die kajuit en laaibak het omtrent die wenkbroue laat lig langs die veilingskrale en by koöperasiekoffies.

Die nuwe bakkie verkoop reeds fluks in Australië, Brasilië, Europa en die Midde Ooste, maar is plaaslik aanvanklik slegs as ‘n dubbelkajuit en in 4×2 en 4×4 weergawes beskikbaar. Beide weergawes kan as handrat of outomaties bestel word, maar slegs enjin, naamlik ‘n 2.4 liter viersilinder DiD turbodieselenjin word aangebied.

Omvattend herontwerp, vertoon die nuwe Triton steeds modern en met die vreemde ontwerp nou meer verfyn,  sal daar na dese veel minder skewe kyke wees. Die vooraansig  vertoon aggressief en dit is veral die uitgeboude enjinkap, fris sierrooster en omvou-kopligte wat visueel tref. Agter vou die stertligte na voor met ‘n tipe vingerwysende punt om die hoeke, terwyl die ingeboude remlig nou in die laaideur geplaas is en nie meer soos met die ou model in die kajuit se agterkant  versteek word nie.  Blink kantspieëls, herontwerpte kanttrappies en treffende 17”-allooisierwiele beklemtoon die blink-stefaans voorkoms .

“Die opdrag aan die ontwerpers en ingenieurs was reg van die begin af om die wese van die Triton te behou, maar ook om aspekte soos rit, hantering en gemak te verbeter ten einde ’n volwaardige sportnuts-ervaring agter die stuur te bewerkstellig,” sê Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika. Volgens Campbell het die ingenieurs 185 kernkomponente van die Triton verbeter teenoor sy voorganger, waaronder ‘n dieper en sterker laaibak, die hersiening van die enjinkapvorm ten gunste van lugdinamiese doeltreffendheid, en die verfyning van die bestuurder se sitposisie ten  einde  gemakliker  te sit asook om sig vanuit die voertuig te verbeter.

Terwyl die nuwe bakkie in totaal slegs 20 mm langer is as die vorige model, is die kajuit inderdaad met 200 mm verleng teenoor die uitgaande model. Agterste insittendes, selfs die langeriges onder ons, het nou meer beenruimte, terwyl die agterste sitbank met ‘n klasleidende hoek van 25˚ na agter gemonteer is en die sitplekleunings boonop ook skuins na agter kan kantel. Herontwerpte sitplekke met dikker en digter spons dra verder by tot groter gemak, veral op langer ritte. Verbeterde klankdigting help met ‘n aangenamer ritervaring.

Mitshubisi

Die binneruim vertoon luuks en modern. Leerbekleedsel, kwaliteit materiale en goeie vakmanskap asook ‘n goeie uitleg bring die nuwe Triton se kajuit bykans op die vlak van die luukse Pajero modelle. ’n Nuwe voorpaneel sluit in onder meer ’n intuïtiewe raakskerm-vermaakstelsel wat die klankstelsel, tru-kamera se beelde, sateliet navigasie asook ritinligting vertoon.  Bluetooth en USB verbindings, sowel as ’n sleutellose drukknop-aansitter is ingesluit by die omvattende lys van standaard toerusting in die nuwe model wat ook spoedbeheer, dubbelsone-lugversorging, ’n elektries verstelbare bestuurdersitplek asook ‘n  kantel- en teleskopies verstelbare stuurwiel insluit. Die netjiese stuurwiel is ook toegerus met skakelaars vir die klank-, telefoon- en spoedbeheerstelsels.

Die 2017 Mitsubishi Triton bied tans slegs een enjin opsie, naamlik ’n nuwegeslag-viersilinder-turbodiesel met ’n aluminium-enjinblok. Die nuwe enjin se turboaanjaer met ’n ongewone lae 15.5:1-drukverhouding lewer lewendige wringkrag teen lae enjinsnelhede.  Die 2,4ℓ-MIVEC-enjin het ’n aluminium silinderblok met versterkte staalvoerings vir duursaamheid en ingeboude hoëdrukbuis-dieselinspuiting. Met ‘n gewigsbesparing van 30 kilogram teenoor die ou 2,5 turbodiesel in sy voorganger, hanteer die Triton nou veel beter. Verder het die ingeneurs dit reggekry dat die nuwe kleiner enjin aansienlik meer krag lewer met drasties minder vibrasie danksy nuwe monteerpunte op die onderstel.  Piek kraglewering is 133 kW teen 3 500 rpm, met ‘n wringkragpiek van 430 Nm teen 2 500 rpm. Brandstofverbruik word amptelik aangegee as 7,6 liter per 100 kilometer in ‘n gekombineerde siklus. Aandrywing is na die agterwiele (2H) of al vier wiele (4H in die geval van 4×4) met die keuse van ‘n 6-gang handratkas of 5-gang outomaties.

Tydens die bekendstellingsrit het ons heelwat kilometers op grondpaaie afgelê, waarvan sommige gedeeltes teen hoëspoed gedoen is. Daar was egter ook gedeeltes wat met slaggate en spoelslote besaai was na swaar reën in die area uitgesak het. Die Triton se padgedrag het my beïndruk, deels te danke aan ‘n ligter enjin, maar ook danksy hersiende rolstawe, stywer voorvere en aansienlik groter rubbermonterings wat die romp aan die leerraam-onderstel heg.

Mitshubisi

Die goeie hantering en stuurgevoel kan ook ddels aan die hidrouliese kragstuurstelsel toegeskryf word wat baie meer direk is met 3,8 draaie van punt tot punt (teenoor die 4,3 draaie van sy voorganger). Voeg daarby ‘n effe korter asafstand en die klein draaisirkel van 5,9 meter sorg vir ongehoorde goeie gedrag tydens ons baie tegniese en hoogs uitdagende veldry en fôr-baai-fôr hindernisrywerk.

Mitsubishi se toonaangewende weergawe van sy bekroonde Super-Select II-aandrywingstelsel deur al vier wiele, wat ook in die jongste weergawe van die Mitsubishi Pajero diensdoen, is grootliks verantwoordelik vir die nuwe Triton se indrukwekkende veldryvermoëns.die stelsel bied aan die bestuurder die keuse van vier doeltreffende rymodusse deur ’n enkele skakelaar in die middelkonsole tussen die voorste sitplekke.

Die Triton, wat ’n 40:60-kragverdeling pleks van die outydse 50:50-verdeling gebruik, behou die  padgedrag van wat gewoonlik met ’n kleiner motor met aandrywing deur al vier wiele geassosieer word,en sorg vir uitsonderlike goeie dinamika op grondpaaie. Ek het die nuwe model platvoet in tydrenstyl op die grondpad deur die draaie gelooi, en was beïndruk met die sportiwiteit en uitstekende stabiliteit vir so ‘n groot en “logge” voertuig.

Al die 4×4-dubbelkajuitmodelle het ’n grondvryhoogte van 215 mm en bied ’n klasleidende invalshoek van 28 grade,  ’n vertrekhoek van 22 grade en ‘n oorbruggingshoek van 25 grade. Die viertrekboffins sal die waarde daarvan vir veldry goed verstaan.

’n Reeks dinamiese veiligheidstelsels is vir die Triton beskikbaar en kom die dubbelkajuit-weergawes onder meer toegerus met Mitsubishsi se baanbreker-ASTC (aktiewe stabiliteit- en kloubeheer) wat die remme inspan en die enjinkrag aanpas om die neus in die ryrigting te hou as die toestande glad en glyerig raak. Sluitwerende remme (ABS) en elektroniese remkragverdeling (EBD) sowel as opdraande-wegtrekhulp (HSA) is ook standaard by die nuwe model.

mitshubisi

Vier dubbelkajuit-weergawes in 4×2- of 4×4-gewaad en met die keuse van ’n sesgang-handratkas of outomatiese vyfgang-transmissie is tans beskikbaar. Al die modelle word met ’n vyfjaar/90 000 km-diensplan en driejaar/100 000 km-fabriekswaarborg bekendgestel.

Modelle en Pryse

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×2 (handrat) – R479 900

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×2 (outomaties) – R499 900

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×4 (handrat) – R539 900

Mitsubishi Triton 2.4 Di-D 4×4 (outomaties) – R559 900

DEUR DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

0
Views: 299Comments Off on Nuwe Mitshubisi Triton dubbelkajuit

Deel hierdie artikel.

0