Nuwe Ford Ranger Wildtrak 3.0 V6 Diesel 4×4 Dubbelkajuit: Die nuwe leier van die trop

ford-ranger
DEUR DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive
Ford Suid-Afrika se vorige generasie Ranger Wildtrak was uiters gewild plaaslik en daar is vanselfsprekend hoë verwagtinge van die nuwe model wat ook die kroonjuweel is vanuit Ford se nuwe R16 miljard aanleg in Silverton, buite Pretoria.
Ontwerp en Voorkoms
Die nuweling is geheel ‘n nuwe bakkie met Ford se ingeneurs wat ook die T6 platform moes moderniseer om hulle toekomsplanne vir die Ranger te kon akkommodeer. Die witjasse moes seker maak dat die platform plek maak vir die groter V6 diesel met genoeg spasie vir twee batterye, maar ook aanpasbaar sal wees vir die waarskynlik hibriede en elektriese aandrywings van die toekoms.
Bakkies se uiterlike ontwerp en stilering sal altyd tweede viool speel teen die vereistes wat funksionaliteit van ondermeer die laaibak daar stel. Ford het dit egter steeds reggekry om met die vooraansig se stilering en ligontwerp ‘n vars en moderne voorkoms te skep. Die prominente sierrooster, C-vormige dagryligte en groot luginlate vertoon terselfdertyd aggressief en sportief en laat die koope draai. Agter is die laaibakklap en kanttrappie in die laaibak agter die agterwiel is geinspireer deur die ontwerpe van die Amerikaanse Ford F-150. Verder dien die agterklap as ‘n praktiese werksbank met twee kragsokke naby in die kant van die laai bak. Daar is ook ‘n liggie wat baie handig te pas kom in die donker.
Ons toetsbakkie is afgewerk in Ford se treffende “Cyber Orange” bakkleur wat baie aandag getrek en
talle komplimente ontlok het.
Die nuwe Wildtrak se binneruim en toerustingvlakke stel na ons mening die nuwe standaard in die dubbelkajuit bakkiesegment met Ford wat dit reggekry het om die bougehalte en gehalte van materiale in die kajuit merkbaar te verbeter. Konvensionele draaiknoppe en skakelaars gemeng met moderne digitale instrumentasie maak die voorpaneel van die nuwe Wildtrak ‘n fees vir die oog en sintuie, terwyl die blou agtergrondbeligting en swart leerbekleedsel ‘n ambiaans van luukse kalmte skep. Die multifunksie digitale instrumente huls is ‘n nuutjie in die bakkiesegment.
Ford se nuutste inligting- en vermaakstelsel, bekend as SYNC4A in die Wildtrak, gebruik ‘n reuse tablet-agtige 12” hoë definisie kleurskerm wat regaf middel in die voorpaneel gemonteer is. Funksionaliteit is intuïtief en gebruikersvriendelik. Die stelsel bied toegang tot alle klank-, kommunikasie-, voertuig- en ritinligting met Android Auto en Apple CarPlay koppeling, maar daar is ook ‘n koordlose laaiblad vir slimfone asook ‘n sketsblad waarop met die hand geskryf kan word. Laag onder die voorpaneel voor die rathefboom is daar ook USB-A en USB-C kragpunte vir wanneer met koorde gelaai of gekoppel wil word.
In geheel bied die nuwe Ranger Wildtrak tans een van die beste kajuite in die dubbelkajuitsegment in terme van ergonomie en praktiese gebruik.
Enjin en Verrigting
Ford het die nuwe Ranger Wildtrak met ‘n splinternuwe en uiters verfynde 3.0 liter V6 turbodiesel enjin toegerus wat 184kW en 600Nm se piekkragte lewer. Die enjin stuur die krag na al vier wiele met behulp van Ford se beproefde 10-spoed outomatiese ratkas wat danksy ‘n nuwe wringkrag omsetter en opgegradeerde sagteware uitstekend by die kragtige enjin aanpas. Die enjin het beïndruk met lae geraasvlakke en seepgladde verrigting op die snelweg, tydens sleep en in stadsverkeer. Terwyl die nuweling met ‘n sleepwa en vrag van meer as 3 ton teen ‘n sterk wind, 15,4L/100km se diesel verbruik het, was ons algehele brandstofverbruik in ‘n gemengde siklus ‘n aanvaarbare 11,2L/100km.
Hantering en Paddinamika
Ford het die nuwe Ranger se wielbasis met 50mm gerek om die intree- en vertrekhoeke kleiner te maak. Verder het die witjasse hard gewerk om die onderstel en veerstelsel te verbeter. Die resultaat is ‘n bakkie met ‘n uiters gerieflike ritdinamika. Dit is slegs die opsionele lae-profiel bande op 20” allooiwiele van ons toetsmodel wat ritgehalte op ongelyke padoppervlakkes effens negatief beïnvloed het.
Ons het nie werklik kans gehad om die nuwe Wildtrak omvattend in die veld te beproef nie, maar ons glo dat die nuweling ook daar bekwaam bevind sal word.
‘n Draaiknop tussen die voorste sitplekke bied die bestuurder die keuse van 2H, 4H en 4L, maar die nuwe Wildrak 4×4 kom in totaal met 6 veldry modusse asook ‘n elektronies beheerde permanente 4-trekstelsel wat krag outomaties tussen die voor en agterwiele versprei namate behoefte en omstandighede. Die 360˚ kamerastelsel met verskeie hoë-definisiebeelde verseker dat veldry veel makliker en veiliger aangepak kan word.
Op die grond- en sandpaaie was greep, padhouvermoë en hantering indrukwekkend.
Die nuwe Ford Ranger Wildtrak dubbelkajuit 4×4 stel ‘n nuwe standaard vir sy segment. Dis duidelik dus geen verrassing dat hierdie bakkie ‘n finalis in die 2023 SA Gilde van Mobiliteits Joernaliste se gesaghebbende SA Motor van die Jaar kompetisie is nie. Na my mening is die 2023 Ford Ranger Wildtrak ‘n baie sterk aanspraakmaker op die algehele kroon en dit sê meer as ‘n mondvol.
Prys en Waarborge
Die 2023 Ford Ranger Wildtrac Dubbelkajuit 4×4 Outomaties kos in stardaard gewaad R953 500.
Ingesluit by die prys is ‘n 4 jaar/120 000 km waarborg, 4 jaar/onbeperkte km padbystanddiens en ‘n 5 jaar/onbeperkte km roeswaarborg. Diensintervalle is elke 15 000 kilometer of 12 maande watter ookal eerste kom.
Wat wel negatief opval is dat geen diens-/onderhoudsplan standaard by die prys ingesluit is nie, maar kopers het wel die keuse om diens-/onderhoudsplanne geldig vir tot 8 jaar/165 000 km opsioneel aan te koop. Die standaard waarborg kan ook tot 7 jaar/200 000 km verleng word vir die koper se sak.