Categories: Articles, Crop productionPublished On: 22nd May 2025

NuFarm bied doeltreffende onkruidbestuuroplossings en verstaan die behoeftes van die boer

By 6 min read
1098 words

New_Nufarm_logo_white_on_green_background_632px

Suid-Afrikaanse boere staar daagliks uitdagings in die gesig – van klimaatwisseling en siektebestuur tot die behoefte aan betroubare gewasbeskerming wat regtig werk. In ’n bedryf waar elke besluit op die plaas ’n direkte uitwerking het op winsgewendheid, is dit noodsaaklik om saam met vennote te werk wat oplossings kan bied wat prakties, kostedoeltreffend en resultaatgedrewe is.

NuFarm vestig hulle handelsmerk in Suid-Afrika

Danie Marais, verkoop- en ontwikkelingsbestuurder van NuFarm Suid-Afrika, verduidelik dat NuFarm oorspronklik ’n Australiese maatskappy is wat meer as ’n eeu gelede gestig is. “Ons is wêreldwyd betrokke in die volledige landbouspektrum wat gewasbeskerming aanbetref – van onkruidbeheer tot swamdoders en plaagdoders – en ons het ’n sterk teenwoordigheid in lande regoor die wêreld,” sê Danie.

Danie Marais, verkoop- en ontwikkelingsbestuurder van NuFarm Suid-Afrika by NAMPO 2025.

Hoewel NuFarm tot onlangs toe net tegniese aktiewe bestanddele aan plaaslike formuleerders verskaf het, het hulle onlangs ’n strategiese skuif gemaak om hulle eie handelsmerk regstreeks aan Suid-Afrikaanse boere bekend te stel.

“Ons het besluit om meer waarde tot die plaaslike mark toe te voeg deur nie net produkte aan formuleerders te gee nie, maar om self NuFarm-produkte onder ons eie naam te vestig. Dit is juis hoekom ek hier is – om die verkoops- en ontwikkelingsrol te vervul en om saam met boere oplossings op die grondvlak te ontwikkel,” vertel Danie.

NuFarm- stel onkruiddoders en plantgroeireguleerders op NAMPO bekend

NuFarm se produkportefeulje brei vinnig uit in Suid-Afrika, en met hulle strategiese skuif om die handelsmerk plaaslik te vestig, het boere nou toegang tot gehalteprodukte onder die direkte NuFarm-vaandel. Een van die mees gevestigde produkte in hulle reeks is Corasil-P, ’n plantgroeireguleerder wat spesifiek in die sitrusbedryf gebruik word om vruggroei te stimuleer en opbrengs te verbeter.

Met die nuwe strategie fokus NuFarm verder op nuwe onkruiddodersamestellings wat aangepas is vir plaaslike omstandighede – veral vir graanboere wat doeltreffendheid en bekostigbaarheid in een soek. Tydens NAMPO 2025 is twee van hierdie nuwe produkte met groot sukses aan boere bekendgestel: Weedmaster Xtreme en Kyleo.

Weedmaster Xtreme – Hoë doeltreffendheid in moeilike spuittoestande

Volgens Danie is Weedmaster Xtreme ’n moderne samestelling wat die aktiewe bestanddeel glifosaat bevat – maar in ’n unieke kombinasie van twee soute. “Tradisioneel was glifosaat in die vorm van ’n IPA-sout beskikbaar. Later het kaliumsoutformulerings hulle plek ingeneem vanweë beter reënvastheid en mengbaarheid. By NuFarm het ons tegnologie ontwikkel wat sowel die IPA- as kaliumsout in een produk kombineer – wat boere nou ’n eenkan-oplossing bied wat vinniger werk, langer hou en makliker meng,” sê Danie.

Hierdie produk is veral waardevol vir boere wat onder uitdagende spuittoestande werk, of waar weerpatrone onvoorspelbaar is.

Kyleo – Volledige beheer met dubbele aksie

Kyleo is die perfekte metgesel vir Weedmaster Xtreme. Hierdie produk kombineer twee aktiewe bestanddele – glifosaat en 2,4-D – in ’n unieke formulering wat die tegniese beperkinge van soutversoenbaarheid oorkom. “2,4-D is in DNA-soutvorm bekend vir sy swak mengbaarheid met IPA-soute,” verduidelik Danie. “Maar deur gevorderde formulering het ons dit reggekry om ook Kyleo as ’n stabiele eenkan-oplossing aan te bied wat boere in graan- en rygewasproduksie die voordeel van volledige onkruidbeheer gee – sonder gedoe, sonder mengfoute.”

Slim onkruidbeheer begin by verstaan van die probleem

Danie sê die noodsaaklikheid van doeltreffende onkruidbeheer was reeds duidelik op pad NAMPO toe. “Enigiemand wat die pad gery het en die lande langs die roete dopgehou het, sou sien hoe die oorvloedige reën daartoe gelei het dat onkruid weer sterk begin opkom het – selfs in lande wat reeds gestroop is. Dít is presies die tipe situasie wat boere kopseer gee,” sê hy.

Wanneer boere fisies hulle lande moet bewerk om van onkruid ontslae te raak, lei dit dikwels tot vogverlies – iets wat kritiek is in dele waar water skaars is. “Deur onkruid chemies te beheer, kan boere waardevolle grondvog bewaar en die koste van meganiese bewerking verminder,” voeg hy by.

Verbeterde doeltreffendheid – selfs in wintertoestande

Een van die grootste uitdagings vir doeltreffende onkruidbeheer in die winter is dat plante se metabolisme stadiger is. “In kouer, droër toestande met minder sonlig is die onkruid se aktiwiteit beperk – en dit maak dit moeiliker vir tradisionele onkruiddoders om doeltreffend opgeneem te word,” verduidelik Danie.

Maar NuFarm se gevorderde formuleringstegnologie oorkom hierdie uitdaging. Sowel Weedmaster Xtreme as Kyleo is saamgestel met verbeterde opname en sistemiese werking, selfs wanneer die onkruid nie optimaal groei nie. “Boere kry dus betroubare beheer, selfs in die winter – ’n seisoen waarin jy juis wil voorkom dat onkruid jou vog steel of saad terug in die grond sit vir die volgende seisoen.”

Die regte chemie op die regte tyd kan dus die verskil beteken tussen ’n skoon land en ’n langtermynprobleem.

NuFarm se betrokkenheid by NAMPO – meer as net ’n vertoonvenster

“NAMPO is die vertoonvenster van landbou in Suid-Afrika,” sê Danie met oortuiging. “Dis ’n wêreldbekende platform wat in die afgelope paar jaar ongelooflik gegroei het – nie net in getalle nie, maar ook in invloed.”

Vir NuFarm was NAMPO 2025 ’n strategiese geleentheid om hulle teenwoordigheid in die mark te bevestig en hulle toewyding aan plaaslike boere te wys. “Dit is hier waar ons eerstehands met boere kan gesels, hulle uitdagings verstaan en vir hulle wys dat ons ernstig is oor oplossings wat werk – prakties en ekonomies,” sê hy. “Dit is nie net blootstelling aan boere nie, maar ook aan ander sleutelrolspelers in die bedryf. Dit versterk ons boodskap: NuFarm is hier om ’n verskil te maak.”

Minder chemie, meer effek – NuFarm se boodskap aan boere

Een van NuFarm se belangrikste boodskappe aan boere is dat moderne tegnologie nie beteken jy moet méér gebruik nie – maar beter. “Ons nuwe geslag onkruiddoders is só saamgestel dat jy met minder produk op die grond steeds groter doeltreffendheid kan behaal,” sê Danie. “In ’n wêreld waar daar toenemende druk is om chemiese insette te verminder, bring ons oplossings wat nie net die boer help nie, maar ook die omgewing in ag neem.”

Die voordeel van hierdie gevorderde formulering lê nie net in doeltreffendheid nie, maar ook in volhoubare praktyke. NuFarm glo dat deur die kombinasie van ou en nuwe aktiewe bestanddele in slim formulerings, weerstandbestuur beter hanteer kan word.

“Wanneer jy twee aktiewe bestanddele in een produk het, vermy jy die konstante blootstelling van onkruide aan slegs een tipe chemie. Dit beteken hulle bou nie maklik weerstand op nie – en dit is ’n langtermynvoordeel vir die boer se grond en sak.”

Kontak NuFarm

Vir meer inligting oor NuFarm se produkreeks, of om kontak te maak met ’n verteenwoordiger in jou streek, besoek gerus hulle webwerf by: www.nufarm.com.

Danie het ook die wenners van NAMPO 2025 wat wegstap met hulle kanne Kyleo- en Weedmaster Xtreme gelukgewens:

 

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0