Noupoort Merinoklub se beste ooi aangewys

wenners-hand-oog-klassering-vlnr-sp-van-der-walt-dykie-de-villiers-frikkie-visser-jim-de-villiers-michael-hayward-dykie-se-bestuurder
Deur Juan Venter, NWKV Produksie Adviseur: Middelburg
Noupoort Jongooi Merinoklub se mees ekonomiese ooitjies is aangewys en groep ooitjies is geïdentifiseer op grond van wolgroei en massa-toename. Kategorieë waarin deelgeneem word, is (per groep ooitjies en individuele ooitjie) beste totale waarde (vleis en wol), hoogste vleiswaarde, hoogste wolwaarde en hand-en-oog klassering.
Die klub is in 2010 deur elf merino-boere van Noupoort gestig. Vanjaar het 13 boere deelgeneem, waarvan een ‘n gas was, naamlik PD Jacobs en sy skoonseun Willem Grobbelaar van Pdrino Merinos van Trompsburg in die Vrystaat.
Jaarliks skryf die lede ‘n groep van 6 speenooitjies in (ouderdom van ongeveer 6 maande met inname). Die ooitjies word dan vir ʼn periode van ongeveer 8 maande by een van die lede geëvalueer. Elke jaar word ‘n gas, gewoonlik ‘n bekende stoetboer uitgenooi om ook 6 ooitjies in te skryf.
Hierdie ooitjies word vir die tydperk wat hulle by die gasheer is, volgens die oordeel van die gasheerboer bestuur. Daar word so ver moontlik gepoog om die ooitjies op dieselfde wyse te bestuur as wat die gasheer met sy jong ooitjies doen. Hierdie wyse van bestuur sluit die gasheerboer se ent- en doseringsprogramme in en die ooitjies kan ook ‘n lek ontvang om hulle vermoë om die veld beter te benut, te stimuleer. Daar word daarteen gewaak om die ooitjies te ‘voer’. Die gasheer vir 2016 was Jim de Villiers van die plaas Toitdale, Noupoort.
Gedurende die inname en met die opedag gedurende die toetsperiode, het PD Jacobs en Willem Grobbelaar die ooitjies beoordeel volgens die hand-en-oog metode en die 5 beste ooitjies is uitgehaal. Hierdie evaluasie tel egter geen punte nie. Met die opedag word ‘n wolmonster van elk van die ooitjies geneem. Hierdie wolmonsters word ontleed en daarvolgens ontvang elke ooitjie ‘n wolwaarde wat gekoppel is aan die pryse van die jongste 3 wolveilings voor die finale dag.
Op die finale dag word die kompetisie in twee verdeel. Eerstens kies een of twee onafhanklike beoordelaars (vanjaar was dit dr Nolte Troskie) die vyf beste individuele ooitjies volgens die hand-en-oog metode. Tweedens word die ooitjies geskeer en elke ooitjie ontvang ‘n wol- en vleiswaarde, waar faktore soos wolmassa (volgens die pryse soos hierbo verduidelik), massa-toename en eindmassa die belangrikste faktore is. Hierdie waardes word alles in ‘n rekenaarprogram ingevoer en die mees ekonomiese groep ooitjies gekies (waar elke boer se beste vyf ooitjies se waardes gebruik word in die finale resultate).
Deur die jare het die betrokkenheid van die dames ook baie gegroei, tot by die punt waar dit nou ‘n familie-kuier is waar die mans en vrouens elk hulle eie verrigtinge het, maar ook by mekaar inloer. Vanjaar was daar ‘n damesprogram wat deur Ashley Lombard aangebied is met die tema, “Spiritual, Physical and Mental wellness.” Die projek word ook sterk deur verskeie borge ondersteun. Hierdie borge maak dit moontlik vir die gasheerboer om nuwe middels en lekaanvullings op die proef te stel, asook om groot pryse op die finale dag beskikbaar te stel.
Die groot voordeel van die projek is dat daar gesien word watter tipe ooie die meer ekonomiese ooie is en dat die boere sosiaal saam verkeer en ook so by mekaar leer.
Die wenners vir 2016 lyk as volg:
Mees ekonomiese groep van 5 ooitjies
- Dykie de Villiers
- Jimpie de Villiers
Hand-en-oog klassering
- SP van der Walt
- Dykie de Villers
Groep van 5 ooitjies met hoogste wolwaarde
- Dykie de Villiers
- Jimpie de Villers
Enkel ooitjie met hoogste wolwaarde
- Dykie de Villers
- Arina de Villiers
Groep van 5 ooitjies met hoogste vleiswaarde
- Dykie de Villiers
- Jimpie de Villiers
Enkel ooitjie met hoogste vleiswaarde
- Jimpie de Villiers
- Piet Davel
Enkelooitjie: Mees ekonomiese ooitjie en dan die wenner vir 2016 – Dykie de Villers
Foto: Wenners van hand-oog-klassering van links na regs – SP van der Walt, Dykie de Villiers, Frikkie Visser, Jim de Villiers en Michael Hayward.