Categories: NewsPublished On: 20th October 2017

Noord-Kaapse boer is Agri SA se 2017-Jongboer van die Jaar

By 2 min read
371 words

Jaco en Dan – Liezel foto

Jaco Strauss en Dan Kriek Foto: Liezel de Villiers

Toyota SA/Agri SA se Jongboer van die Jaar is aangewys. Dit is Jaco Strauss (40) van die plaas Lekkerkry, in die Vaalhartsdistrik in die Noord-Kaap. Jaco is ‘n gewasseboer wat hoofsaaklik met graan, katoen en pekanneute boer.

Die suksesvolle vrugteboer, Richard Myburgh, van die plaas, Cortina, tussen Villiersdorp en Grabouw, in die Vyeboomdistrik in die Wes-Kaap, het die Toyota SA Nuweoes-toekenning ingepalm. Dié toekenning word aan voorheen benadeelde boere uitgeloof.

Dan Kriek, president van Agri SA, het na afloop van die geleentheid gesê die deelnemers aan albei kompetisies is van hoogstaande gehalte en ‘n toonbeeld van die toekoms van landbou.

Jaco Strauss en Dan Kriek (Foto: Liezel de Villiers)

“Ek is baie beïndruk met al die deelnemers,” het hy gesê. “Die dinamiese Jongboer-deelnemers fokus op die innoverende gebruik van tegnologie en dit is duidelik die Nuweoes-deelnemers bereik nuwe vlakke van uitnemendheid.”

Dit is vanjaar die dertiende jaar wat die Jongboer-kompetisie deur Toyota SA geborg word. Boere van jonger as 40 jaar wat minstens twee jaar lank ‘n opbetaalde lid van hulle provinsiale landbou-organisasie is, kan in aanmerking kom. ‘n Wenner word uit elke provinsies gekies, waarna hulle finaliste is in die Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Jaco en Richard het elkeen met ‘n splinternuwe Toyota Hilux-enkelkajuitbakkie weggery.

Volgens Dan word die beoordeling uiters professioneel gedoen.

“Ons is baie trots op Jaco. Al die deelnemers is Jongboere om op trots te wees en ek doen ‘n beroep op hulle om hulself vorentoe beskikbaar te stel as leiers in die georganiseerde landbou en hulle gemeenskappe,” het Dan gesê.

“Richard se sukses is ‘n voorbeeld van wat met transformasie bereik kan word. Dit is duidelik al die deelnemers aan die Jongboer- en Nuweoes-kompetisies wil terugploeg in hul gemeenskappe. Dit is die goue draad wat al die deelnemers verbind.”

Jaco is voorsitter van sy plaaslike boerevereniging en lid van Graan SA, asook die Vaalharts-Distrikslandbou-unie. Hy boer al 18 jaar op Vaalharts en is aktief betrokke by gemeenskapsprojekte. Daarom het hy ‘n reuse-aandeel gehad in die oprigting van ‘n private skool in die omgewing. Hy sê dit was vir hom belangrik dat sy eie kinders en die ander kinders van die omgewing toegang het tot goeie plaaslike onderrig. Jaco is getroud met Elna en hulle het drie kinders.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0