NAMPO: Vuur en vlam terug

DSC_0117
Na ՚n afwesigheid van twee jaar van die internasionale landboukalender het NAMPO-oesdag, die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond, inderdaad ՚n oorweldigende terugkeer gemaak.
Die hele landbougemeenskap het van 16 tot 20 Mei 2022 op Bothaville toegesak vir die jaarlikse NAMPO-oesdag. Na drie jaar se stilte het NAMPO-park behoorlik gegons, en was ՚n reuse sukses – met altesaam 73 000 toeskouers wat NAMPO-park besoek het.
Volgens Graan SA kry NAMPO gewoonlik ongeveer 20 000 besoekers per dag op sy 40 ha, met ongeveer 760 uitstallers en hulle personeel op NAMPO-park. Die gemiddelde besoeker bring meer as sewe uur by NAMPO deur.

NAMPO se hoofdoel is nie wins is nie; dit gaan oor die sake wat daar, en in die toekoms, gedoen word regoor die hele landbouwaardeketting en dit is hoekom NAMPO belangrik is; nie net vir landbou nie, maar ook vir Suid-Afrika.
Die uitstallers by NAMPO se oogmerk is sekerlik om hulle jongste toerusting met nuwe tegnologie aan die boere ten toon te stel, maar sekerlik ook om goedere te verkoop of dan minstens ՚n bestelling te kry of ՚n uitnodiging om toerusting op die plaas te kom demonstreer.

Dr Pieter Taljaard, hoofuitvoerende bestuurder van Graan SA, het in ՚n oop brief aan die publiek almal weer voorgestel aan NAMPO net om mense weer te herinner wie en wat NAMPO is: “NAMPO het ontstaan uit drie graan-produsente naby Bloemfontein wat die behoefte gesien het om vir hulleself en mede-produsente ՚n geleentheid daar te stel waar hulle die nuutste landboutoerusting in aksie kon sien. Daarmee saam kon ander insetverskaffers die geleentheid gegun word om met huidige en voornemende klante te skakel, nuwe produkte en idees te deel en ook netwerke en verhoudinge bou.


“NAMPO het deur die jare gegroei en ander uitstallings het bygekom om dit ook vir die produsente se geliefdes ՚n unieke en aangename ervaring te maak, omdat ons produsente en lede familiemense is. Die hoofdoel van NAMPO vandag is steeds om die geleentheid daar te stel waar voedselprodusente van hierdie land en buurlande na die nuutste tegnologie en produkinnovasies kan kom kyk, met kundiges in die bedryf kan kom gesels en nuwe idees kom kry,” aldus dr Taljaard.

daarvan te sien.
Dr Dirk Strydom, hoof van NAMPO, Bemarking- en Navorsingkoördinering van Graan SA sê: “Dit is een groot seën dat NAMPO hierdie jaar kon plaasvind ten spyte van al die uitdagings. Ons vertrou dat die nie-winsgewende organisasies en nabygeleë gemeenskap baat gevind het by die jaar se NAMPO-oesdag.”
Die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het Maandagoggend besoek afgelê by NAMPO. Die minister se afvaardiging het haar twee adjunkministers sowel as die departement se direkteur-generaal, Mooketsa Ramasodi, ingesluit. Tydens die besoek het die minister ook samesprekings gevoer met die ministers van Landbou en Grondhervorming van die Demokratiese Republiek van die Kongo en die Argentynse ambassadeur.

Tydens die week van NAMPO het 335 vliegtuie en 70 helikopters op die aanloopbaan geland, wat gesorg het vir 925 besoekers. Die week is gekenmerk deur aangename weersomstandighede, hoewel harde reën Vrydagmiddag die jaar se NAMPO-oesdag op ՚n nat noot laat afsluit het.

Dit was beslis ՚n week vol hoogtepunte, nuwe bekendstellings en skouers skuur met nuwe, ou en bekende gesigte. Die datums vir volgende jaar se NAMPO Oesdag is vasgestel op 16 tot 19 Mei 2023.
Vir meer inligting, besoek https://www.grainsa.co.za/pages/nampo/nampo-home.