‘n Verloorstryd teen misdaad

CCTV
Geweldsmisdade het ’n baie demoraliserende uitwerking op mense en sluit in misdade soos moord, poging tot moord en rooftogte met verswarende omstandighede, soos die uiters gevreesde triomisdade (motorkapings, huis- en sakerooftogte).
Volgens TLU SA se statistiek, steek 2017 sleg af in vergelyking met die situasie dieselfde tyd verlede jaar. In 2016 is 295 aanvalle en 52 moorde geregistreer terwyl die ooreenstemmende periode vanjaar ‘n styging van onderskeidelik 347 en 65 aantoon.
“Die situasie op Suid-Afrikaanse plase en landbouhoewes neem ernstige krisis-afmetings aan en dit is duidelik dat die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie nie die verwagte resultate oplewer nie”, aldus Mnr Henry Geldenhuys, TLU SA se Adjunk-president en ook Voorsitter van die unie se Veiligheidskomitee. “Die vraag kan tereg gevra word of geweldsmisdade op plase en hoewes werklik in die praktyk prioriteitstatus geniet, of die nodige middele in landelike gebiede beskikbaar gestel word om die probleem te beveg en of misdaadintelligensie enigsins benut word om aanvalle teen wetsgehoorsame plaasbewoners te verhoed?”
Agri SA het met groot kommer kommentaar oor die huidige stand van misdaad gelewer na die polisie se bekendmaking van die 2016-’17-misdaadsyfers. Dit blyk dat geweldsmisdaad in die afgelope boekjaar weer eens toegeneem het.
“Geweldsmisdade het in die afgelope vier boekjare bly toeneem en sluit van die misdade in waaraan boere en landelike gemeenskappe die meeste blootgestel word,” sê Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se landelike beveiligingskomitee.
Moord het met 1,8%, gewapende rooftogte met 6,4%, huisrooftogte met 7,4% en motorkapings met 14,5% toegeneem. Triomisdade het in totaal met ‘n skokkende 8,4% toegeneem.
Hoewel alle boere en landelike gemeenskappe wêreldwyd onder misdaad deurloop, is Suid-Afrikaanse boere die uitsondering weens die uiters gewelddadige aard van plaasaanvalle.
Veral in die afgelope maande is talle plaasgemeenskappe geruk deur grusame plaasaanvalle waar die slagoffers erge marteling verduur het.
Meer as 8 500 plaasaanvalle en 925 moorde het oor ‘n tydperk van 14 jaar plaasgevind en dit spreek boekdele van die volgehoue misdaadaanslag op boere en plaaswerkers.
“Só ‘n aanslag is nie bevorderlik vir voedselsekerheid nie en dit is belangrik om te onthou dat die landbou die enigste sektor was wat hoop laat opvlam het in die eerste en tweede kwartale van 2017. In die eerste kwartaal het die landbou 22% tot die ekonomie bygedra, wat tot 33,6% in die tweede kwartaal toegeneem het,” sê Breytenbach.
Hoewel Agri SA op beleidsvlak met die polisie, en uiteraard alle regeringsdepartemente, sal bly skakel om die inwerkingstelling van die Landelike Beveiligingstrategie te bewerkstellig, is die Agri Securitas Trustfonds ‘n praktiese instrument om ‘n verskil te maak in boerderygemeenskappe.
Die Agri Securitas Trustfonds beywer hom onder meer vir bystand vir kommunikasienetwerke in landelike gemeenskappe, traumaberading op plaaslike vlak en oprigting van valhekke.
Daarby gee die Trustfonds op deurlopende wyse aandag aan die onderliggende persepsieprobleme wat moontlik tot plaasaanvalle en -moorde kan bydra en probeer om dit te verander deur skakeling met die regering en landelike gemeenskappe.