‘n Equalizer lei tot ‘n nuwe trekker

US Trekker3
Die Departement Agronomie by die Universiteit Stellenbosch (US) het verlede jaar ‘n groot skenking van die Kaapse maatskappy, Theebo Tech, ontvang. Die maatskappy het ‘n Equalizer-minimumbewerkingsplanter aan hulle geskenk. Die doel was om hulle navorsing oor graanverbouing te bevorder.
Die nuwe planter het nou gelei tot ‘n nuwe trekker, want die departement se trekker was nie sterk genoeg om die planter te hanteer nie en gevolglik kon die planter nie optimaal benut word nie.
Van die departement se bedryfsvennote, Overberg Agri, CLAAS en Kempston Agri het tot hul redding gekom en het ’n CLAAS-trekker aan prof Nick Kotze, hoof van die Departement Agronomie, oorhandig.
Danksy hierdie trekker met sy verbeterde vermoëns sal die department sy nuwe minimumbewerkingplanter nou kan inspan om navorsing oor bedryfspesifieke kwessies te doen en te poog om aan die landbougemeenskap antwoorde op hulle spesifieke probleme te gee.
Die departement van Agronomie is onder meer betrokke by navorsing oor verskeie kleingraangewasse waarmee in die Wes-Kaapse winterreënvalgebiede geboer word, insluitend koring, hawer, lupiene, gars en kanola. Met die departement se uitgediende toerusting moes grond tot drie keer bewerk word voordat graan vir navorsingsdoeleindes geplant kon word. Met die minimumbewerkingsmetode hoef ’n boer sy lande net een keer te bewerk.
“Bedryfsgerigte navorsing is tot voordeel van die boer, die omgewing en landbou in geheel,” het prof Kotze verduidelik.
Hy het die voormalige Amerikaanse president, Franklin D Roosevelt aangehaal, wat al in die 1930’s gesê het: “The nation that destroys its soil destroys itself.”
André Uys, ’n alumnus van die Fakulteit Agriwetenskappe en besturende direkteur van die Overberg Agri-groep, het beklemtoon dat vennootskappe met veral landboufakulteite ’n uiters belangrike deel van die maatskappy se besigheidsmodel is.
“Dit is vir ons ’n voorreg om julle te help, want julle help ons,” het hy gesê. “Ons wil graag deel wees van die navorsings- en opleidingsproses en insette kan lewer.”
Hy het verduidelik dat studente aan die Fakulteit Agriwetenskappe nie net hulle kliënte en werknemers word nie, maar dat Overberg Agri en die boere wat hulle bedien, ongelooflik baat by die navorsing wat in die fakulteit gedoen word.
Dick David, bestuurder van Kempston Agri wat CLAAS se agent in Suid-Afrika is, het beaam wat André gesê het, en bygevoeg dat CLAAS homself roem op presisieboerdery en doeltreffendheid. “Ons ondersteun graag navorsing wat presisieboerdery bevorder,” het hy gesê.
Prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die Fakulteit Agriwetenskappe, het gesê die bedryf se ondersteuning is noodsaaklik vir die Fakulteit om sy goeie werk voort te sit.
Studente in die Departement Agronomie werk tans aan verskeie bedryfsprojekte en die Fakulteit Agriwetenskappe in geheel het in die 2015-akademiese jaar 38 PhD-studente opgelewer.
Bron: Fakulteit Agriwetenskappe, Universiteit Stellenbosch
