Monsanto voer spogplanter in vir proewe

logo
‘n Unieke tegnologies gevorderde agt-ry presisieplanter gaan die bekende saadmaatskappy, Monsanto, help om mielieproewe vinniger en akkurater te plant vir die verkryging van nog beter, bruikbaarder inligting.
Die Almaco-planter wat Monsanto ingevoer het, is ‘n tegnologiese meesterstuk. Ingenieurs werk al van Februarie 2011 af aan die ontwerp van die planter.
Die planter kan geprogrammeer word om voorsiening te maak vir plantestand per hektaar, tempo van bemestingtoediening, lengtes van proeflande en verskillende rywydtes.
“Plantestand per hektaar kan van 20 000 na 130 000 verander terwyl daar geplant word en die kunsmistoediening word elektronies beheer om te verseker dat elke plantjie dieselfde hoeveelheid kunsmis kry. Daar kan tot vier verskillende toepassings in een eksperimentele strook hanteer word indien dit nodig is,” sê Mauritz Lombaard, toetsoperasionele bestuurder van Monsanto se mielietelingspan.
Nie enige trekker kan die planter hanteer nie en Monsanto gebruik die John Deere 8245R met sy presisie- en outomatiese stuurtegnologie.
Proefpersele van verskeie lengtes word in rywydtes van 75 cm, 91 cm, 1,5 m of 2,3 m geplant, afhangende van die neerslagvlakke van die betrokke gebied. Die planter word deur twee persone beman. Vanuit hulle sitplekke bo-op die planter voer hulle die plantbuise met verskillende eksperimentele saadbasters wat vooraf in gemerkte koeverte verpak is.
Elke perseel word volgens GPS-koördinate gekarteer en die mielies word met ’n spesiaal omgeboude New Holland-stroper gestroop om opbrengsdata te versamel.
Hoogs opgeleide toetsspanne plant proewe in vyf provinsies in die somerreënvalstreke op kommersiële boere se grond. Die boere speel ‘n baie belangrike rol in die gehalte van die proewe. Die aanplantings word aangepas by die spesifieke boer se praktyke, bemestingaanbevelings, insek- en onkruidbeheermaatreëls.
Die uiteinde van al hierdie toewyding is die verskaffing van betroubare saad met voorspelbare eienskappe aan die mielieboere wat ons land se mense aan die eet hou.