Categories: SeedPublished On: 13th December 2016

Monsanto se “Dis mos mielies!” word met sorg voorberei

By 3 min read
627 words
Monsanto

monsanto-dis-mos-mielies

Net buite Lichtenburg op pad Coligny toe staan ’n reuse aanleg met die naam ‘Monsanto’, op een van die skuurmure geskryf. Hier vind een van die belangrikste prosesse plaas om voedselsekerheid in Suid-Afrika te verseker. Dit is die Thobontle-aanleg, waar hoogs gespesialiseerde saad, propvol van die jongste Monsanto-saadtegnologie, versamel word om gedroog, behandel en verpak te word. Nadat ’n handvol toetse op elke saadlot gedoen is, is dit gereed vir lewering aan ons land se mielieboere, klein en groot, sodat hulle die volgende plantseisoen weer die beste genetika op die mark kan gebruik om kos te produseer.

Monsanto is wêreldwyd bekend vir die miljarde dollar wat hulle aan navorsing in genetika, saadbehandelings, en biotegnologie spandeer. Sodoende produseer hulle die beste saad wat aangepas is om verskeie klimatologiese en omgewingsfaktore te hanteer. In hulle hoogs gespesialiseerde laboratoriums word daar kort duskant wonderwerke gedoen met genetiese manipulasie om die graansoorte meer verdraagsaam teen peste en plae te maak. In Thobontle- aanleg is daar ook laboratoriums, maar dit word uitsluitlik gebruik om die reeks ingewikkelde gehaltetoetse te doen om te verseker dat elke saadjie wat die aanleg verlaat sy werk sal doen om vir die boer ’n wins te verseker.

Sodra ’n nuwe kultivar geteel is, begin die saadvoorsieningsproses by ingekontrakteerde boere in die Noordelike en Westelike mielieverbouingstreke, soos die Groblersdal-, Koedoeskop- en Hartswater-besproeiingskemas, wat onder streng voorwaardes die produksiesaad vermeerder. Nadat die heel koppe met ’n vogpersentasie van tussen 32% en 35% geoes is, ry vervoerkontrakteurs die vragte volgens lotte na die aanleg waar dit in ’n aflaaiput gestort word. Vandaar help masjiene en 42 mense om die koppe van die blare en onsuiwerhede te skei. Die hoë voginhoud van die pitte verhoed dat die meganiese proses dit kraak of breek.

Die volgende vervoerband neem dit na die droogoond waar dit in graansuiers met skuins, geperforeerde bodems gestort word. Lug wat tot 35 grade Celsuis verwarm is word vir 72 uur deur die silo geblaas tot die saad se vogpersentasie na 12 daal. “Ons is besig om te kyk of ons nie die lug met stronke kan verwarm in plaas van die duur en gevaarlike LP-gas wat tans gebruik word nie,” sê Ampie Rautenbach, Monsanto se saadproduksiebestuurder: aanlegte en veldpersoneel vir Suid-Afrika.

Daarna beweeg die koppe na die dorsmasjien waar die pitte van die stronke geskei word en ‘n tweede keer gesuiwer word. Die volgende stop is ‘n sorteertafel waar die pitte volgens pit- en vormgrootte gesorteer word. In die vulaanleg span ’n masjien ligsensors in om enige saad wat die verkeerde kleur, te klein, gekraak of insekskade het, met saamgeperste lug uit te skiet. Daarna word die saad met insek- en swamdoders behandel om te verseker dat elke pit gedurende die kritieke ontkiemingstadium van die eerste paar dae beskerm word. In die sakaanleg word daar presies 60 000 pitte in ‘n sak wat min of meer 40 kg weeg, gegooi. Die laboratorium toets ook gehalte en ontkieming van elke lot soos dit deur die aanleg beweeg.

Die saad se wortelontwikkeling en groeikragtigheid word onder koue- en hittetoestande getoets en daar word ook gekyk na genetiese suiwerheid en of die biotegnologie- eienskap teenwoordig is of nie. Sodra die laboratorium-personeel die groenlig gee, word die saad na die verskillende depots vervoer waar dit gereed gemaak word vir die volgende plantseisoen. Die geheim van jou plantsukses lê in Monsanto-mielies onder die Dekalb-handelsmerk.

Kontak vir Magda du Toit by 082-388-0187 of stuur vir haar ’n e-pos na magda.du.toit@monsanto.com.

 

Monsanto

Afrika se kleiner boere is vir Monsanto net so belangrik as boere wat van horison tot horison plant. Ampie Rautenbach wys hoe hulle saad in vyf- en tienkilogramsakkies verpak word.

Monsanto

Ampie Rautenbach wys hoe lyk die masjien wat die koppe van die blare en onsuiwerhede skei.

Monsanto

’n Monster van elke saadlot word aan ’n ontkiemingstoets onderwerp.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0