Categories: NewsPublished On: 6th April 2016

Monsanto ondersteun Buhle Farmers’ Academy

By 3 min read
550 words

DSC_0905

Monsanto werk saam met Buhle Farmers’ Academy en help hulle om voornemende boere op te lei. Die doel van Buhle is om kleinboere in landelike gebiede soos Mpumalanga en KwaZulu-Natal op te lei om die beste boere moontlik te wees. Buhle neem 500 studente per jaar in en help om armoede verlig deur werk te skep. Monsanto dra R7,5-miljoen by tot die projek.

Die betekenis van Buhle is, dit is goed en die organisasie is in 2000 begin. Buhle het reeds ‘n kampus naby Delmas en gaan nog ‘n kampus in die omgewing van Piet Retief oprig.

Buhle se beginsels is: Om kennis, praktiese vaardighede, sakebestuur, lewensvaardighede en ondersteuningsdienste in landbou aan te bied.

“Verbeterde saad, biotegnologie, goeie landboupraktyke en die beskerming van landbou is hulpmiddels wat bydra tot die voedselproduksie en produktiwiteit in Suid-Afrika. Om boere op te lei deur goeie landboupraktyke, gaan ons vorentoe neem na volhoubare voedselproduksie,” sê Kobus Steenekamp, besturende direkteur van Monsanto SA.

Daar word verwag dat die projek min of meer 1 757 permanente nuwe werksgeleenthede, 261 seisoenale korttermynwerke, 1 430 opgeleide begunstigdes en 15 internskapgeleenthede gaan skep. Die plan is ook om 668 volhoubare boerdery-ondernemings te ondersteun.

Kobus voeg by dat Monsanto, ‘n maatskappy wat 100% gefokus is op die landboubedryf, besef dat daar uitdagings in navorsing en opleiding in boerdery in Suid-Afrika is. “Vennootskappe is belangrik as ons wil bydra tot ‘n volhoubare landbousektor in die land. Monsanto het die navorsingsplaas naby Delmas geskenk om die Buhle Akademie te begin en was die stigter wat vir Buhle die beginkapitaal verskaf het in 2000. In vandag se lewe moet mens alles met minder hulpbronne doen.”

Neil de Smidt, direkteur van Buhle Farmers’ Academy, sê Monsanto ondersteun hulle van die begin af. “Ons bied die studente vaardighede soos hoe om met ‘n trekker te werk. Verder fokus ons op beginsels wat hulle moet leer en ons belê in hulle en help hulle groei. Boere moet self besluite neem soos watter kultivars hulle wil plant ensovoorts, ons gee hulle net daardie vaardighede om die besluite te neem.”

Neil sê ook dat jou houding baie belangrik in boerdery is. “’n Boer moet baie moeite insit, want ‘n boerdery is ‘n sake-onderming wat jy moet bestuur. Daar is studente wat inkom en niks weet nie. Jy maak nie ‘n boer net in ‘n paar maande se opleiding nie, dit verg tyd.”

Die werkskeppingsdeel is belangrik. Hoofbedryfsbeampte van Buhle farmers, Nyiko Maluleke, sê meer boere moet in die veld geplaas word. “Dis maklik om mense op te lei, maar dis belangriker om die regte mense te kry. Die meeste kandidate kom uit plattelandse gebiede. Ons gee vir almal lenings volgens hulle behoeftes; as hulle ‘n miljoen rand wil leen gee ons dit vir hulle, maar hulle moet dit terugbetaal. Ons kyk na die volhoubaarheid van hulle boerdery en dit moet winsgedrewe wees”.

“Ons gee ondersteuning tot die boer verby die punt is wat ons kan bied, maar dit gaan oor die boer, party help ons vyf jaar, ander drie jaar. Ons verwys hulle ook na maatskappye wat hulle kan ondersteun, dus help ons die boer skakel met die mark. Op die ou end is die voordele baie indien die boer suksesvol is,” sê Neil.

Kursusse wat Buhle Farmers’ Academy aanbied, is veeproduksie, groenteproduksie, pluimveeproduksie en gewasproduksie.

Vind meer uit oor Buhle Farmers’ Academy by www.buhle.org.za.

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0