Mercedes se eerste elektriese vragmotor bekendgestel

Mercedes-Benz-logo-2
Die Mercedes-Benz Urban eTruck is pas as eerste volle elektriese swaardiensvragmotor bekendgestel.
Die wêreld se grootste vragmotorvervaardiger, Daimler Trucks, het die Mercedes-Benz Urban eTruck in Stuttgart bekendgestel. Dit is die eerste volledige elektriese vragmotor met ‘n totale gewig van 26 ton. Dit beteken dat groot vragmotors in die toekoms ook deel gaan word van die beweging na skoon, stil stedelike verspreidingsbedrywighede.
Die ontwikkeling van elektriese vragmotors is deel van die strategie van Daimler Trucks om aan hulle tegnologiese leierskap te bou.
“Elektriese aandryfstelsels het voorheen net uiters beperkte gebruik in vragmotors gesien. Die tyd is nou ryp vir die elektriese vragmotor,” sê dr Wolfgang Bernhard, van Daimler Trucks & Buses.