Categories: NewsPublished On: 1st March 2016

Melkproduksie daal steeds

By 2 min read
309 words

melkkoeieeet

Die totale melkinname sit die dalende neiging wat in Desember begin is, voort. So sê die MPO(Melkprodusente Organisasie). Inligting wat deur Melk SA verskaf word, toon aan dat die totale melkinname deur verwerkers en ander in Januarie vanjaar 4,9% laer was as in Januarie 2015. 

Die baie hoё temperature in Januarie, die gebrek aan ruvoer van ‘n hoё gehalte en hoёr graanpryse was belangrike faktore wat ’n impak op die totale melkproduksie gehad het.  Soos wat ruvoer  steeds skaarser word en graanpryse toeneem, sal die druk op melkprodusente verhoog. Dit sal ‘n verdere daling in melkproduksie tot gevolg hê. Die MPO beraam dat totale produksie in 2016 met 3% onder die 2015-vlak sal wees.

Daar is wel ‘n sterk groei in die vraag na suiwel volgens inligting wat deur SAMPRO verskaf word. Dit toon dat die mark vir suiwelprodukte nog steeds groei. Kleinhandelverkope van vars melk en UHT-melk het met onderskeidelik 1,1% en 8,6% in die 12-maande tydperk tot die einde van September 2015 toegeneem, in vergelyking met die 12-maande tydperk tot September 2014.

Positiewe groei is ook vir alle ander suiwelprodukte aangemeld, met die uitsondering van roomkaas (-0,3%).  Pryse van suiwelprodukte het ook vanaf September 2014 tot September 2015 toegeneem, met die uitsondering van UHT-melk waar pryse met 2,9% afgeneem het. Volgens die MPO-ekonoom, dr Koos Coetzee, hou kleinhandelverkope van suiwelprodukte nog steeds aan groei ten spyte van ‘n algemene verstadiging in kleinhandelverkope. Veranderings in die inkomsteverspreiding van die Suid-Afrikaanse bevolking bly nog steeds ‘n belangrike drywer van verhoogde vraag.

Vloeibare melkverbruik neem nou al dekades lank af, maar sommige melkkategorieё gaan teen hierdie neiging in. In die jaar wat op 1 November 2015 geёindig het, het gegeurde melk as die regte wenner vorendag gekom.

In die algemeen laat die kategorie van vloeibare melk veel te wense oor. Melkverkope is af met 5,2% in 2015 tot R262,5 miljard en eenheidverkope het met 0,7% tot R89 miljard gedaal.

 

Bron: Melkprodusente Organisasie

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0