Meeste mense ooit oor Paasnaweek op die paaie dood

paaie verkeer
Die padongeluksyfers van die afgelope Paasnaweek, wat deur die minister van Vervoer, Joe Maswanganyi, bekendgemaak is, is ‘n groot bekommernis en mag moontlik die Paasnaweek wees met die meeste sterftes op die pad.
Die Automobiel Assosiasie (AA) beskou hierdie getalle as hartseer en bevraagteken die padveiligheids- en handhawingsinisiatiewe, en doen ‘n beroep op beide die regering en die publiek om ernstig daaroor na te dink wat hierdie getalle beteken.
“Verlede jaar se voorlopige syfers, wat kort na die Paasnaweek van 2016 vrygestel is, dui aan dat daar 156 sterftes op paaie oor die tydperk was. Nietemin, toe die 30 dae wagperiode verby was (wat gebruik word by die berekeninge van die finale getalle) het die sterftes met 57% gestyg na 245. As dieselfde die jaar geld, gaan die finale syfer so hoog wees soos 370 sterftes. Behalwe dat dit kommerwekkend is, is dit ook heeltemal onaanvaarbaar,” sê die AA.
Volgens die syfers is 235 mense dood op die land se paaie tussen 13 en 17 April, ‘n 51% verhoging vanaf 2016. Die helfte van die wat dood is in die ongelukke was passasiers in voertuie, terwyl voetgangers verantwoordelik was vir 25% van die sterftes. Terwyl amper alle provinsies meer sterftes gehad het, was die Vrystaat die een provinsie waar padsterftes met 27% verminder het.
“Ons het dit voorheen baie gesê en ons sal aanhou om dit te se, daar word nie genoeg gedoen om padsterftes te keer nie. Elke jaar kry ons die syfers van die sterftes wat dan of min of meer dieselfde is of meer as die vorige jare,” sê die AA.
Een groot probleem is mense wat hulle bestuurderslisensie koop in plaas daarvan om dit op die regte manier te kry. Die AA is bekommerd dat dit net ‘n gesprek is wat plaasvind en daar niks gedoen word om die situasie op te los nie. Hulle het met die Departement van Vervoer en die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) gepraat wat ondersoeke in die verband instel.
“Teveel metropoliaanse polisiebeamptes teiken motoriste vir lisensieskyfies wat verval het, maar dit is nie die oorsaak van padsterftes nie. Hierdie beamptes moet eerder roekelose bestuurders vasvat. Dit gaan nie die sterftes noodwendig verminder nie, maar dit is ‘n begin,” sê die AA.
Die AA sê dat tensy ernstige en drastiese stappe geneem word om padgedrag te hanteer, die padsterftes nie gaan verbeter nie.
“Een van die eerste stappe nou is vir die Departement van Vervoer, die RTMC, provinsiale padverkeersowerhede en NGO’s betrokke by padveiligheid, insluitend die AA, om te kyk hoe die situasie verander kan word vir die feestydperk aan die einde van die jaar. Tensy behoorlike planne in werking gestel word is ons bekommerd dat dit net volgende jaar weer sal herhaal,” voeg die AA by.
Bron: AA