Categories: NewsPublished On: 17th June 2016

Maties se Landbou-kursus kry ‘n moderne baadjie

By 4 min read
702 words

stellenbosch

Nuwe studieprogram in landbou, wat grond-, plant-, vee- en ekonomie-dimensies kombineer, is vanaf 2017 by die Universiteit van Stellenbosch ingestel.

“Het jy nie daar vir my ‘n weidingskundige wat oor meer as net saad sal kan praat nie, maar darem ook weet van grondkunde, veevoeding en oor wat alles besigheidsin maak?” Dìs die soort oproepe en versoeke wat dosente van die Universiteit Stellenbosch gereeld van voornemende werkgewers kry wat op soek is na jongmense wat poste in hulle landbou-ondernemings kan vul en kan help om hulle dienste aan die landboubedryf uit te brei en te verdiep.

In antwoord op hierdie behoefte vanuit die bedryf kan eerstejaars aan die Universiteit Stellenbosch vanaf 2017 inskryf vir ‘n nuwe BScAgric-opsie wat deur die Fakulteit AgriWetenskappe aangebied word. Daardeur word Agronomie nou gekombineer met Veekunde, Landbou-ekonomie en Grondkunde binne die oorkoepelende Gewasproduksie-fokusarea van die bestaande Plant- en Grondwetenskapprogram. Die inskrywings hiervoor sluit op 30 Junie 2016.

“Die nuwe kombinasie bring die grond-plant-vee-ekonomie dimensies netjies byeen,” vertel prof Theo Kleynhans, landbou-ekonomie dosent van die Universiteit Stellenbosch, en dryfveer agter die instelling van die Fakulteit AgriWetenskappe se nuwe program.

Dit is gerig op die opleiding van primêre produsente (dus voornemende boere en plaasbestuurders) wat vir die tegniese en finansieel-ekonomiese produksiebeplanning van ‘n gemengde boerderystelsel sal moet sorg. Dis ook ideaal vir tegniese adviseurs aan die inset- en uitsetkant van landboubedrywighede wat kennis oor verskillende komponente van ‘n boerdery nodig het.

“Mens besef gereeld hoe groot die behoefte in die plaaslike landboubedryf is na kundiges wat ’n  baie deeglike onderbou het van ‘n breë reeks dissiplines – van kennis oor grondklassifikasie, bemesting en besproeiing tot weiding en hoe dit alles ekonomies sin moet maak,” gesels hy verder. “Baie van ons studente het ‘n multidissiplinêre opleiding nodig omdat hulle hulself mettertyd in ‘n gemengde boerderymilieu bevind waar hulle graan en/of weiding produseer en verder waarde toevoeg deur hulle vee.”

Die nuwe program herinner aan die destydse BScAgric Landbouproduksie met Agronomie, Diereproduksie en Landbou-ekonomie as hoofvakke, wat in die 1970’s en 1980’s baie gewild onder US-studente én hulle werkgewers was. Sedertdien bied die US verskillende BSc Agric-studieprogramme aan wat elk twee vakke kombineer, soos Agronomie saam met Veekunde, Agronomie met Landbou-ekonomie, of Landbou-ekonomie met Veekunde. Die nuwe BScAgric-program kombineer nou al drie vakke.

Gegradueerdes kan as landbouwetenskaplikes by “The South African Council for Natural Scientific Professions” (SACNASP) registreer. Hulle sal egter nie as professionele veekundiges kan registreer nie, omdat diereteling-modules nie in die nuwe kursus ingesluit is nie.

Aan watter vereistes moet voornemende studente voldoen

  • ‘n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) soos gesertifiseer deur Umalusi met toelating tot baccalaureusgraadstudie (wat vereis dat minstens 50% in elk van vier skoolvakke uit die lys van universietitstoelatingsvakke behaal moet word)
  • ‘n NSS gemiddelde van minstens 60% (sonder Lewensoriëntering)
  • Afrikaans of Engels (Huistaal of Eerste Addisionele Taal) 50%
  • Wiskunde 60%
  • Fisiese Wetenskappe (Fisika en Chemie) 50%
  • Alle aansoekers moet die verpligte Nasionale Normtoetse (NNT’s) aflê.

Hoe lyk die vakkeuses?

  • In jou eerstejaar verleen Biologie, Chemie, Ekonomie, Rekenaarvaardigheid, Renterekening, Veekunde en Wiskunde (Bio) aan jou ‘n breë grondslag sodat jy jou latere studies in grond-, plant- en veekunde en landbou-ekonomie beter kan verstaan.
  • Jou tweedejaar bestaan uit Biochemie, Biometrie, Diere Anatomie en Fisiologie en inleidende modules tot Grondkunde, Dierevoedingskunde en Landbou-ekonomie.
  • Jou derdejaarsvakke is:

o          Agronomie (die verbouiing van eenjarige agronomiese gewasse en die bestuur van veld- en aangeplante weidings)

o          Dierefisiologie (die fisiologie van plaasdiere en hoe hul reproduksie werk)

o          Dierevoedingskunde (inleidende inligting oor herkouervoeding en enkelmaagvoeding)

o          Grondkunde (die genese, samestelling, klassifikasie en gebruike van gronde, asook grond- en waterbestuur)

o          Landbou-ekonomie (die bestuur, besluitneming en beplanning wat nodig is in ‘n boerdery)

  • Jou vierdejaarsvakke is:

o          Agronomie (die fisiologiese en ekologiese beginsels van weiveldbestuur en die produksiefisiologie en -tegnologie wat belangrik is by eenjarige akkerbougewasse)

o          Dierevoedingskunde (meer in-diepte kennis oor herkouervoeding en enkelmaagvoeding)

o          Landbou-ekonomie (jy sal leer oor landbou- en voedselbemarking, en ‘n werkstuk doen wat ‘n boerderybegroting met agronomie- en veekundige komponente insluit)

o          Veebestuurskunde (intensiewe bestuurstelsels vir hoender- en varkboerderye, asook ekstensiewe bestuurstelsels vir skaap en bees).

 

Vir meer navrae, kontak prof Theo Kleynhans by tek1@sun.ac.za of Ghafsa Gamiet van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch by (021) 808 4833 of ghgamiet@sun.ac.za.

 

Bron: Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0