Categories: NewsPublished On: 29th March 2017

Maak seker of jy jou lisensie kan hernu

By 2 min read
lisensie

driving-licences

Die Automobiel Assosiasie (AA) het ‘n beroep op motoriste gedoen om bewus te wees van probleme met betrekking tot die elektroniese Nasionale Verkeersinformasiestelsel (eNatis), wat probleme kan veroorsaak met voertuie se lisensieskyfies en bestuurderslisensie-hernuwings, asook die betaling van verkeersboetes.

Dit spruit uit ‘n dringende aksie wat Vrydag 24 Maart in Pretoria se Hooggeregshof deur die Padverkeer-bestuurskorporasie (RTMC) gebring is om Telkom te stop om hulle dienste na eNatis te sny. Telkom sê hulle het dienste aan eNatis opgeskort omdat hulle R8-miljoen skuld. Die maatskappy wat tans in besit is van eNatis, Tasima, sê dat die RTMC die geld moet betaal.

Die Grondwethof het beslis dat die kontrak tussen die Departement van Vervoer en Tasima ongeldig verklaar moet word en dat die eNatis-stelsel aan die RTMC oorgegee moet word. Tasima en die RTMC het misluk om ‘n ooreenkoms hieroor te bereik.

“Die saak gaan al vir jare aan en nou sien ons die uitwerking wat dit op motoriste het. Ons moedig mense aan wat hulle bestuurslisensies of voertuiglisensies moet hernu om vooraf te kyk of hulle dit sal kan doen, voor hulle tyd gemors word,” sê die AA.

Volgens verslae het Regter Hans Fabricius beslis dat as gevolg van die kompleksiteit van die saak, hy nie ‘n bevel kon uitreik nie. Hy het die RTMC en Tasima beveel om die oorhandiging van eNatis teen Donderdag 30 Maart afgehandel te hê.

“Terwyl ons hoop die saak word vinnig afgehandel, kan ons nie help om bekommerd te wees oor die gevolge hiervan nie. Wetsgehoorsame burgers gaan die hardste getref word en gaan in die proses die regskoste van die RTMC betaal. Wie verantwoordelik is vir die gemors is nie van belang nie, maar wat nou belangrik is, is dat die saak vinnig opgelos moet word,” sê die AA.

Die AA sê hulle sal die verwikkelinge rondom die saak van naby dophou en sal soveel inligting daaroor deurgee as wat hulle kan aangesien nie Tasima, RTMC of Telkom die publiek inlig oor wat aangaan nie.

Bron: AA

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment