Categories: NewsPublished On: 23rd May 2017

Maak ECM Technologies se driemanskap jou jagmaats

By 4 min read
742 words
ECM

ecm mei 1

Tradisionele jag soos ons dit nou ken mag dalk in ’n heilige tradisie gehul wees, maar soos die samelewing ontwikkel en moderner word, is slimtegnologie ook besig om ’n plek in hierdie gewilde sport, oftewel kulturele uitlewing, in te neem.

Gedurende verlede jaar se jagseisoen het ons oor ECM Technologies se opwindende X-sight 2-teleskoop geskryf. Die indrukwekkende tegnologie bestaan uit ’n 3D-versnellingsmeter, 3D-magnetiese kragmeter, 3D-giroskoop, nagsig, Wifi, elektroniese kompas, mikrofoon en geheuekaartleser.

Hierdie funksies werk saam om ’n uitmuntende, veeldoelige slimtoestel te skep. Daarmee saam kan jy ’n spesiale toep (app) op jou slimfoon of tablet aflaai om nog meer van die funksies te benut. ECM Technologies se nuutste meesterstuk is die LaserBallisticsafstandmeter, wat jou jagervaring nog meer genotvol maak as jy dit met of sonder die X-sight-teleskoop gebruik.

Ons het saam met Martin Venter, verkoopskonsultant by ECM Technologies, hierdie driemanskap: selfoontoep, afstandmeter en teleskoop op die Krokodilspruit-skietbaan noord van Pretoria gaan uittoets. “In die ou dae moes jy onthou het hoe jy op 50 m, 100 m 200 m en 300 m moet mik, en alles tussenin, of jy moes ’n tabel op jou geweerkolf vasplak,” sê Martin. “Maar ons kombinasie skakel hierdie beslommernis heeltemal uit.”

Met ECM se jagtoebehore kan jy die afstand na die teiken met jou afstandmeter bepaal, wat dan outomaties met die teleskoop kommunikeer en die kruishare daarvolgens aanpas. Die afstandmeter gebruik Bluetooth om data na die X-sight-teleskoop te stuur.

Die proses werk soos volg: Voor die jagtog lees jy die ballistiese besonderhede van die patroon wat jy gaan gebruik in die toep op jou selfoon in en bêre dit as ’n profiel. Die ballistiese besonderhede bestaan uit die trompsnelheid (spoed van projektiel as dit die loop verlaat), jou ballistiese koëffisiënt (die vermoë van die projektiel om lugweerstand te oorkom) en die gewig van die projektiel in grein. Jy kan ook die windspoed byvoeg as jy baie spoggerig wil wees.

Sodoende kan die teleskoop die trajek van die projektiel oor enige afstand bepaal. Elke skoot ’n kolskoot. In die jagveld werk die prosedure baie eenvoudig. Die jagter of ’n mede-jagter hoef net die afstandmeter op die teiken te rig en die knoppie te druk wat die inligting na die teleskoop stuur. Die kruishare pas dan aan en die jagter kan mik en die skoot aftrek. Niemand hoef aan die selfoon of tablet te raak nie, behalwe as iemand saam met die jagter deur sy teleskoop wil kyk.

“Op die vlakte, waar jy oor honderde meter moet skiet, is dit veral belangrik vir daardie haarfyn, akkurate skoot,” sê Martin. Wanneer die X-sight 2 nog nie deel van jou driemanskap is nie, kan die LaserBallistics-afstandmeter ook wondere met ’n konvensionele teleskoop verrig. Nadat jy die teleskoop se nodige inligting in jou toep ingelees het, kan die afstandmeter bepaal hoe om die teleskoop op skoot te bring op jou verkose afstand.

Die selfoontoep dui dan presies vir jou aan hoeveel klieks na links of regs, op of af, jy moet stel om met jou skoot ’n kolskoot te skiet. In die jagveld is dit dan baie maklik om voor elke skoot met behulp van jou afstandmeter en selfoon te bepaal hoe om die teleskoop op die teiken in te stel. Dit is baie makliker as in die ou dae toe jagters ’n valtabel (dropchart) moes gebruik wat hulle teen hulle geweerkolwe moes vasplak.

Die afstandmeter het ook ’n aftasfunksie wat deurlopend vir jou kan sê hoe ver die teiken is soos jy dit oor die veld vee. Dit is baie handig vir deurlopende terugvoer na die skut as die bokke wegstap of naderkom. ECM Technologies wil jou ’n uitsonderlike jagervaring bied.

Skakel hulle kantoor in Pretoria by 012-329-4116 of stuur vir hulle verkoopspan ’n e-pos na sales@ecmtech.co.za. Besoek ook gerus hulle webwerf by www.ecmtech.co.za.

 

ECM

Ons het met behulp van die Laser- Ballistics 1500-afstandmeter ’n konvensionele teleskoop op 100 meter ingestel.

ECM

Martin Venter, verkoopskonsultant by ECM Technologies, lees die ballistiese inligting van die patrone waarmee ons gaan skiet in die selfoontoep in, naamlik die trompsnelheid, gewig en ballistiese
koëffisiënt.

ECM

Die X-sight 2-teleskoop, LaserBallistic 1500-afstandmeter en die selfoontoep is ’n wenkombinasie in enige jagveld.

ECM

Wat die LaserBallistics 1500-afstandmeter so spesiaal maak, is sy aftasfunksie. Dit gee die afstand deurlopend vir die jagter soos dit oor die veld gevee word.

ECM

Die beeld wat die jagter deur die X-sight 2 teleskoop sien, kan ook duidelik deur die medejagters op die selfoontoep gesien word.

ECM

Op 100 meter spreek die resultate vanself.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0