Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 23rd June 2023

LITS-SA: Staat moet almal help

By 3 min read
626 words

ear-tag

deur Tisha Steyn

Die merk van lewendehawe vir identifikasie en naspeurbaarheid is nou ՚n prioriteit, sê Willie Clack, voorsitter van die Lewendehawe-/Vee-identifikasie- en -Naspeurbaarheidstelsel SA. Dit volg op die staat se versuim om te verseker dat die LITS-SA-stelsel ook na kommersiële boere uitgerol word.

Die stelsel wat die afgelope agt jaar deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling in samewerking met die private sektor ontwikkel is, is getoets op die diere van kommunale boere in sommige provinsies, insluitend gebiede waar bek-en-klouseer voorkom. Die toetse het bewys dat die merk van lewendehawe, insluitend vee, varke en volstruise, voordele inhou. Die voordele sluit dieregesondheid en beperking van aanmeldbare dieresiektes in, asook die naspeurbaarheid van onder meer rooivleis in ooreenstemming met internasionale standaarde en vereistes. Volgens Willie is die stelsel nog nie na kommersiële veeboere in aangewese bestuursgebiede wat aanvanklik identifiseer is, uitgebrei nie.

“Hierdie leemte in die toepassing van die stelsel bring die billikheid en omvattende toepassing daarvan in gedrang.” Willie sê die minister van Landbou het in ՚n gesprek op 30 Maart onderneem dat regeringsamptenare aangestel sal word wat sal toesien dat die stelsel oral toegepas word. Volgens hom het daar nog niks van die beloftes gekom nie.

“Dit is kommerwekkend en ons bevraagteken die regering se erns met die toepassing van die stelsel, aangesien dit die kommunale én kommersiële lewendehawe-sektore kan bedreig.”

Volgens die LITS-SA sakeplan sal die regering kommunale gebiede waar bek-en-klouseer voorkom subsidieer vir oorplaatjies. Toegang tot die LITSSA-stelsel se platform en databasis is gratis vir alle boere. Volgens Willie het die Biosekuriteittaakspan die toepassing van ՚n voldoende diere-identifikasie en naspeurbaarheidstelsel uitdruklik aanbeveel.

“Hierdie dringende aanbeveling spruit voort uit die kritieke behoefte aan maatreëls om uitbrekings van vernietigende dieresiektes proaktief te voorkom en te beheer en om internasionale handel te bevorder deur aan die wêreldmarkte se vereistes vir naspeurbaarheid te voldoen.”

Gegewe die waarde en erns van die saak, word die departement en regeringsverteenwoordigers op die LITS-SA-komitee versoek om die huidige tekortkominge so gou as moontlik op te los. “Indien dit nagelaat word, sal dit die veebedryf benadeel en vooruitgang striem.”

Die LITS-SA is in ooreenstemming met die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid se naspeurbaarheidsriglyne en hulle sanitêre en fitosanitêre maatreëls ontwikkel en die toepassing daarvan is noodsaaklik om aan die Biosekerheidstaakspan se vereistes te voldoen.

Om te verseker dat hulle produkte naspeurbaar is en aan die nodige dieregesondheid en -handelstandaarde voldoen, word veeboere aangeraai om die LITS-stelsel te gebruik eerder as om geld te spandeer op ander stelsels wat nie aan die nodige standaarde voldoen nie. Doeltreffende identifikasie en naspeurbaarheid van vee is ՚n integrale deel van die RED Meat Vision 2030 wat ten doel het om Suid-Afika se rooivleisbedryf as ՚n leier op die plaaslike en internasionale mark te plaas. Deur die stelsel te gebruik, kan Suid-Afrika bewys lewer van sy bereidwilligheid om aan die nodige standaarde en riglyne vir dieregesondheid en -handel te voldoen. Dit sal oor die langtermyn bydra tot die sukses van die RED Meat Vision 2030.

“Die suksesvolle toepassing van die stelsel berus egter op die regering se ondersteuning en beskikbaarstelling van hulpbronne om te verseker dat ՚n omvattende stelsel vir almal geld,” sê Willie.

“Ons doen ՚n ernstige beroep op die minister om haar woord gestand te doen en die beloftes wat op die vergadering gemaak is, na te kom.” Hy sê Suid-Afrika moet die geleentheid aangryp om ՚n ongeëwenaarde vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel te vestig wat tot voordeel van dieregesondheid en veilige handel sal strek en die land se goeie naam as produsent op internasionale markte sal verseker. Die uurglas loop leeg.

 “Ons dring aan daarop dat die LITS-SA-stelsel onverwyld en doeltreffend in die totale lewendehawesektor toegepas word.”

Kontak Willie Clack by WClack@ unisa.ac.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0