Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 23rd August 2023

LEMKEN kap woeste reste fyn met Müthing-deklaagbewerking

By 3 min read

this one

Elke boer weet: Gesonde grond lewer goeie oeste en die begin van gesonde grond is die terugplasing van biologiese materiaal in die bogrond waar dit kan ontbind om die grond te voed. Enige plantreste wat na strooptyd agterbly is geskik, maar hoe fyner die materiaal is wanneer dit teruggaan grond toe, hoe gouer kan die ontbindingsproses begin en die lewende organismes kans kry om hulle werk te doen.

LEMKEN is ook deeglik bewus van hierdie beginsel. Daarom verskaf hulle nou ook ‘n nuwe reeks werktuie, die Müthing-deklaagbewerker (mulchers) aan boere. Die Müthing-reeks kom net soos LEMKEN se bekende blou werktuie van Duitsland af.

Blackie Swart van LEMKEN SA sê: “Boere wil nie meer koringreste brand nie. Hulle het na ‘n ander oplossing gesoek om massas materiaal te hanteer, en LEMKEN se Müthing is die perfekte antwoord.”

Alle opslag en plantmateriaal wat welig groei onder besproeiing, en vinnig bewerk moet word vir die aanplanting van die volgende seisoen se gewas, kan nou effektief fyngekap en in die grond ingewerk word.

“Ons het gesoek na werktuie wat net so effektief  soos LEMKEN funksioneer en ons het die Müthing-deklaagbewerkers in Duitsland gevind,” sê Blackie.

“Boere kan nou die materiaal fyner kap om die prosesse in die grond gouer aan die gang kry. Fyner materiaal versnel organiese vrystelling en dit voed nie net die grond nie; die boer bespaar ook geld op onkruidbekeer en insekbeheer, soos die voorkoming van stamboorders en fusarium.”

Daar is ‘n verskeidenheid van keuses werktuie wat gebruik kan word vir ontbossing, die fynkap van blare en gesnoeide takke in wingerde en boorde, soos onder neutbome, en die skoonhou van munisipale parke en vele meer.

So lyk die drie-meter MU Vario se stewige hamers en rollers wat die fynkap- en vastrapwerk doen.

Müthing het werktuie vanaf 1 meter wyd tot 8,6 meter en daar is modelle wat langs, agter of voor die trekker werk.

By NAMPO kon boere kyk na die 3-meter MU Vario en die 6,7-meter MU Farmer.

Die MU-Vario kan na albei kante toe verskuif met ongeveer 26 cm om by te kom waar die trekker nie kan ry nie. Die roller kan ook verskuif om die materiaal agter of voor die roller uit te laat.

Blackie sê: “Al die hamers is met boronstaal getemper, so dit is baie sterk en vir drie jaar gewaarborg.”

Graanboere het by NAMPO veral gekyk na die grootboet in die reeks, die 6,7-m MU-Farmer. Dit is maklik om die MU-Farmer agter die trekker te haak en na enige plek te sleep, tussen lande en tussen plase. By die werkplek word dit afgehaak, die trekstang vou op, die wiele word uitgeswaai, dit word dan aan driepunt gekoppel en jy is reg vir ‘n baie aggressiewe en deeglike bewerking van massas materiaal.

Die hamers aan die roller weeg elk 2,7 kg, wat dit sommer baie kapkrag gee.

Die Müthings kan op hulle eie gebruik word, maar pas uitstekend in ‘n totale bewerkingsprogram saam met jou LEMKEN Karat of Rubin vir saadbedvoorbereiding.

Blackie sê die werktuie is bekostigbaar, hulle is reeds wyd beproef en hulle werk. Vind meer uit by Karel Munnik by (+27)82-412-2577 of k.munnik@lemken.com; of Blackie Swart by (+27)82-404-9651, of b.swart@lemken.com, of Wessel Vosloo by (+27)66 280 6564, of Gerrit Janse Van Rensburg by (+27)82 528 7881, of besoek www.lemken.com.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment