Landbou belê in sonkrag
Hoë produksiekostes is een van landbou se grootste knelpunte en met die jaarlikse verhoging van elektrisiteitstariewe wat nie tred hou met inflasie nie, en die onstabiliteit van kragverskaffing, is volhoubare en alternatiewe oplossings noodsaaklik. Een van dié oplossings is sonkrag, sê André Potgieter van Energyworx, een van die grootste integreerders van dak-sonkrag in Suid-Afrika.

André Potgieter
Hy sê sonkrag word nou al hoe meer deur boere landwyd ingespan en hy voorsien dat die mark vir sonkrag verder sal vergroot as koolstofbelasting in 2015 ingestel word. Sonkrag-aanlegte tel ook punte vir maatskappye wat produkte wil uitvoer.
Fotovoltaïese-sonpaneel-aanlegte kan op bykans enige plek in sonnige Suid-Afrika opgerig word. Suid-Afrika het van die hoogste bestralingsvlakke ter wêreld en is dus veronderstel om die leier op dié gebied te wees, maar weens die relatiewe goedkoop krag waartoe verbruikers in die verlede toegang gehad het, is die moontlikheid nooit ten volle ontgin nie.
André sê die drastiese prysverhogings tesame met die skerp daling in die koste van fotovoltaïese-stelsels, beteken dat al hoe meer mense die voordeel van son-energie wat saam met bestaande bronne gebruik kan word, insien.
Hy verduidelik: “Dié panele verskaf elektrisiteit wanneer dit aan bestraling blootgestel word. Die krag wat opgewek word, word aan ’n omskakelaar gekoppel, wat dit na ’n wisselstroom verander en met die netwerk-frekwensie (Eskom) sinkroniseer en sodoende die regstreekse aanvraag van krag van Eskom verminder.
“Eskom word nooit afgeskakel nie, maar bly op bystand vir wanneer die aanvraag groter as die sonkrag-aanbod is. Saans, wanneer die sonpanele nie werk nie, voorsien Eskom dus die krag, maar dan is dit gewoonlik teen ’n baie goedkoper tarief.”
Van Suid-Afrika se voorste vrugteplase belê nou grootskaals in sonpaneel-aanlegte. Lourensford-landgoed in Somerset-Wes het pas aangekondig dat die plaas meer as R7 miljoen belê het in ’n 500 kWp fotovoltaïese sonpaneel-aanleg op die wynkelder se dak. Die 4 000 hektaar plaas spesialiseer in vrugteverbouing, wyndruiwe en hout. Vir dié plaas is die voordele van dié belegging tweërlei: dit sal volhoubare energie verskaf, maar ook die plaas ’n treetjie nader aan die produksie van koolstof-neutrale wyne bring.
Die vrugtebedryf verg baie hoë kragverbruik, as gevolg van intensiewe verkoelings-aanlegte. Sonkrag werk in die warm maande op sy beste, juis wanneer die aanlegte die meeste op konstante verkoeling staatmaak.
Energyworx het Suid-Afrika se eerste dak-sonkragaanleg groter as 100 kWp by Villiera-wynlandgoed geïnstalleer. Dit word gereeld deur die Universiteit van Stellenbosch vir toetsing gebruik en dien as vertoonvenster. Nog plase in die vrugtepakbedryf wat die voordeel van sonkrag deur Energyworx-aanlegte benut, is Stellenpak in Simondium, die Bo-Radyn Boerdery buite Villiersdorp en Bluejays buite Stellenbosch.

Bluejays
Stellenpak verskaf ’n verpakkings- en verkoelingsdiens en pak produsente se vars vrugte (pruime, pere, appels en sitrus) vir uitvoer. Robert Saunders van Stellenpak vertel meer oor hulle Energyworx-stelsel wat vroeër vanjaar aangebring is: “Die 420 kWp-stelsel wat 600 MWh per jaar gaan produseer, bestaan uit 1 680 panele wat ’n area van 2 744 m² dek. Daar is 21 omskakelaars; 15 hiervan voorsien krag aan die koelkamers en ses aan die pakhuis. Geen krag word op die oomblik gestoor nie.”

Stellenpak
Elektrisiteit maak ongeveer 10% van hulle totale produksiekoste uit en hoewel hulle nog nie genoeg syfers het nie, reken hulle die panele gaan ’n 15% besparing op die kragrekening meebring.”
Hy sê: “Ons grootste enkele oorweging vir die installasie was om ons kragrekening te verlaag, maar dit gaan ook daaroor om ons koolstofproduksie te verlaag. Ek weet almal sal by sonkragpanele baat, maar diegene wat die meeste van hulle krag in die dag in die somermaande verbruik, sal ook die meeste baat.”
Sandra Jeffery van die Timberlea Farming Trust, een van die Bluejay Groep se verskaffers, vertel met sonskynweer verlaag hulle sonkragpanele die plaas se elektrisiteitsrekening met tot 20%.
“Hoewel ons kragrekening verlaag het en Energyworx se prys die kompeterendste was, kan ons nou ook sonkrag as bemarkingsvoordeel aanwend,” vertel sy.
André glo die oplossing vir Suid-Afrika se energieprobleme is die proses waarvolgens die sonkrag wat mense self opwek, na Eskom se netwerk teruggevoer word en as’t ware jou elektrisiteitsmeter laat terugloop. Hy sê daar is internasionaal verskeie suksesstories rondom hierdie proses.
“Eskom bied dit tans vir groter kliënte met medium stroomspanning en sekere munisipaliteite bied dit vir beide medium- en lae stroomspanning aan.”
Die grootste enkele struikelblok vir die verbruiker is die aanvanklike insetkoste, maar André sê as in ag geneem word dat Energyworx se sonkragstelsels tussen 25 en 30 jaar gewaarborg word en ’n produktiewe lewe van ten minste 35 jaar het, maak dit sin om ’n belegging in dié energiebron te maak.
“Daar is nie instandhoudingskoste nie – behalwe om die panele so elke wan en dan af te spuit; geen bewegende komponente wat afslyt nie en boonop het jy vir 30 jaar gratis krag.”
Afhangende van waar in Suid-Afrika jy is en teen watter tarief krag aan jou verkoop word, word die aanvanklike insetkoste binne ses tot agt jaar gedelg. Elke keer as Eskom sy tariewe verhoog, word jou insetkostes vinniger gedelg.
Hy het gewaarsku dat boere versigtig moet wees vir swak gehalte panele: “Vors die verskaffer en vervaardiger se agtergrond na. Goedkoop koop is duur koop en die paar duisend rand wat jy dalk aanvanklik gespaar het, is nie die moeite werd as jy na vyf jaar met sonpanele sit waarvan die produksie só afgeneem het, dat jy nie jou insetkoste uit die belegging kan verhaal nie.”
Hy voeg by dat dit baie maklik is om ’n 25 jaar waarborg op ’n paneel te verskaf, maar dat die waarborg niks werd is as die maatskappy ’n jaar later sy deure sluit nie.
Die installasie van die sonpanele op die dak laat ook nie die werk op die plaas stilstaan nie en wanneer die hoofkoppeling gemaak word, word die krag vir hoogstens ’n uur afgeskakel op ‘n tyd wat die plaas pas.
Hou die volgende in gedagte as jy sonpaneel-aanlegte op jou plaas oorweeg:
• Dakstruktuur: die meeste Suid-Afrikaanse dakke moet volgens regulasie ’n lewendige las van 50 kg/m² kan hanteer. Die sonpanele weeg gemiddeld 13,5 kg/m² as dit geinstalleer is.
• Die dak moet verkieslik noord front, maar enigiets tussen noord-noordwes of noord-noordoos, gee goeie resultate in Suid-Afrika.
• Die dakhelling: hoe verder
van noord die dak afwyk, hoe platter moet die dak wees om goeie resultate te lewer.
• Groot bome of strukture wat skadu op die panele kan gooi, moet vermy word.
• Die afstand van die dak met die sonpanele tot by die hoofkragboks moet so kort as moontlik gehou word om kabelverliese te verlaag en kabelkostes laag te hou.
Besoek gerus www.energworx.co.za vir meer inligting.
Goeie dag
Sal jul so gaaf wees om ‘n kwotasie aan my te stuur.
My behoeftes is net om my TV te trek in die tye wanneer die krag af is.
Ons is pensioenarisse en het dus nie die geld om die volledige pakket aan te skaf wat als kan trek nie.
VIR DIE TYD WAT DIE KRAG AF IS WIL ONS TEN MINSTE NET TV (SEPIES) KAN KYK.
Benodig seker die volgende:
• 2 x 450 watt sonpaneel
• MPPT-laaier eenheid
• Omskakelaar 500 watt of 1KW
• Batterye
• OF omskakelaar & laaier in een.
Dankie.
Jaco du Plessis
bjvdp1@gmail.com
Goeiedag Jaco- die artikel het baie lank terug op ProAgri se webblad verskyn. Jy gaan hulle moet kontak by http://www.energworx.co.za vir meer inligting.