Laaste wolveiling eindig op 'n hoë noot
Wolpryse het oor die afgelope jaar mooi gestyg en skaapboere kan nie kla oor die pryse wat by die laaste veiling vir die 2014/2015-seisoen behaal is nie.
Op die 33ste wolveiling van hierdie seisoen het die Cape Wools Merinowolmarkaanwyser met 0,9% gestyg en op 14120c per kg skoonwol gesluit. Dit is ongeveer 25,06% hoër as ‘n jaar gelede.
Gemiddelde skoonwolprysaanwysers vir goeie gehalte lang vagwol (MF4/MF5) met ‘n treksterkte van 35 (NKT) was soos volg:
18 µ 15238 (+1,7%)
19 µ 14690 (+3,2%)
20 µ 14057 (-0,4%)
21 µ 13932 (+2,%)
22 µ 13576 (+0,5%)
23 µ 13039 (+1,1%)
Die grootste kopers op die veiling was Lempriere South Africa (3,848 bale), Standard Wool (3,589 bale) en G Modiano (1,553 bale). Van die 9,838 bale wat aangebied is, is 9,715 bale verkoop (98%).
Die drie hoogste pryse wat op die BKB-veiling behaal is, is betaal aan CH Wagenaar van Jamestown vir ’n vetprys van R119,00 per kilogram; Karoo-Lelie Landgoed Bk by Cradock vir vetprys van R117,10 en Lovedale Family Trust by Klipplaat vir ’n vetprys van R115,10.
BKB is baie tevrede met die suksesvolle 2014/2015-wolseisoen en het hulle kliënte gelukgewens met hulle prestasies. Die openingsveiling vir die nuwe seisoen; katalogus P0115, sal op 12 Augustus 2015 plaasvind.