Kyk grondverdeling kat eers goed uit die boom
“Boere moet versigtig wees om nie verwagtinge oor grond by werkers of enige derde party te skep nie,” maan TLU SA.
Enige bespiegelinge oor grond wat deur boere aan plaaswerkers afgestaan moet word, is voortydig en kan net lei tot verwarring. “Gugile Nkwinti, die minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het duidelik gestel dat hy teen April 2015 voorstelle oor die saak wil ontvang. Verskeie prosesse in die verband is nog aan die gang, so laat ons daarby hou,” sê TLU SA se president, mnr Louis Meintjes.
Mnr Meintjes het ‘n beroep op instansies en indiwiduele boere gedoen om nie voortydig met bepaalde beloftes of ondernemings in dié verband na vore te kom nie. “Die minister het aangedui dat hy ‘n gesamentlike voorlegging van die landbou-eenheidsforum, ASUF, sou wou ontvang. ASUF werk nog hieraan. Net soos TLU SA ook reeds sy reeds bekende voorstelle oor grondverdeling aan ASUF voorgelê het, sou ons graag wil sien dat alle instansies en indiwidue ook hulle gedagtes oor die saak aan ASUF voorlê vir verdere bespreking.
“Om halsoorkop verbintenisse te maak dat boere 20% van hulle grond moet afstaan, is nie so maklik nie. Die een skoen pas nie vir almal nie. Groter boere kan so iets moontlik makliker toepas terwyl kleiner boere glad nie daarby kan uitkom nie. Hier sal ‘n model en oplossing gevind moet word wat almal sal pas. Om voortydig aankondigings en beloftes te maak, sal ook by die minister valse verwagtinge skep. Landbou het stabiliteit nodig, wat net bereik sal word deur gesamentlike, weldeurdagte en ekonomies volhoubare besluite en optrede. Laat daardie proses asseblief toe om sy kringloop te voltooi,” het mnr Meintjes gevra.