Kleinboere kry groot present

bennett-williamson-LIeBDNb2jEU-unsplash
deur Tisha Steyn
Dertien kleinboere wat hoofsaaklik met vee en varke op Barrydale se meentgrond boer, het onlangs ՚n groot geskenk gekry.
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou, het ՚n trekker en hamermeul aan hulle oorhandig. Die boere, twaalf mans en ՚n vrou, boer met beeste, skape, bokke en varke en verbou lusern vir veevoer. Die departement se voorligting- en adviesdienste help hulle daarmee.
Buiten die toerusting sal hulle ook vee van hoogstaande gehalte ontvang om hulle beeste en varke se genetika te verbeter.
Volgens dr Meyer is die bystand en ontwikkeling van kleinboere hoog op sy lys van belangrike insette in die kleinboere se landboubedrywighede. “By stand deur ons voorligting- en adviesdienste is noodsaaklik om kleinskaalse boerdery in winsgewende landbouondernemings te ontwikkel,” sê hy.
“Die doel met ons hulppakkette is om hierdie boere te help om die getalle en standaard van hulle vee te verbeter sodat hulle om die beste pryse in die mark kan meeding. Ons praktiese hulp fokus dus op veevoer en die verbetering van die bestaande kuddes se genetika. Die skenking van die trekker en hamermeul sal hulle help om veevoer te verbou. “
Klimaatverandering bring nie net droogte teweeg nie, maar het ook ՚n groot invloed op dieregesondheid, en die departement se veeartsenydienste staan by om bykomende hulp verleen.

Voor: Fransina Lenford, dr Ivan Meyer, Fransina Europa en Joseph Appollis. Bertram Conradie sit agter die trekker se stuur, Recardo Carelsen staan voor die trekker, en Peter Takelo is heel regs. Agter van links is Vuyani Lukas Ngodi, Kevin Martinus, Vuyani Nyatela, William Morris Riddles (voorsitter van Barrydale Kleinboere), George Pokwas en David Ngoni. Foto: Verskaf
Verskil tussen opgee of aanhou boer
Morris Riddles, voorsitter van Barrydale Kleinboervereniging, het die minister vir die hulp bedank. “Die
afgelope paar jaar is ons deur droogte, die Covid-19 pandemie en die energiekrisis getref. Die departement se hulp maak die verskil tussen opgee of aanhou boer.”
Die boere, wat verskillende beroepe beoefen, spits hulle na aftrede toe op boerdery. Recardo Carelsen, ՚n landbouvoorligtingsbeampte van Swellendam wat nou saam met die boere werk, sê die Swellendam-munisipaliteit verhuur die meentgrond waar die kleinboere boer vir ՚n tydperk van nege jaar en elf maande aan hulle. Baie van die boere boer al die afgelope vyftien tot twintig jaar hier.
“Boerderyopsies word beperk deur die beskikbaarheid van water uit boorgate,” sê Recardo. “Van hulle probeer met groente boer, maar dit is tot die minimum beperk. In die verlede het hulle weidingsgewasse probeer aanplant, maar die afgelope vyf jaar gaan hulle gebuk onder erge droogtetoestande. Die reënval is aan die afneem en dit lei tot sporadiese droogtes.”
Omdat weiding skaars is, word die kleinboere aangeraai om eerder met skape, bokke en varke as beeste te boer. “Huishoudelike voedselsekuriteit geniet voorkeur en hulle slag vee vir eie gebruik,” verduidelik Recardo.
“Volhoubare praktyke, soos die maak van hulle eie varkkos, word aanbeveel. Die gehalte van die kos wat hulle self maak is van hoë gehalte en tussen dertig en vyftig persent goedkoper as die voer wat in die handel beskikbaar is.”
Die departement help ook met infrastruktuur, soos die verskaffing en oprigting van watertenks. Van die boere bemark hulle vee op plaaslike veilings op Riversdal en Swellendam, en die inkomste wat hulle daaruit verdien vul hulle huishoudelike inkomste aan. “Sommige vee word ook direk van die plaas af aan kopers uit onder meer Kaapstad verkoop,” sê Recardo.
Dr Meyer was baie ingenome met die nuus dat die boere beplan om ՚n plaaslike mark- en veilingsdag te hou, maar die datum is nog nie vasgestel nie. “Die hulp wat ons verleen moet kleinboere help om groter toegang tot die mark te kry,” sê dr Meyer. “Dit sal hulle help om die plaaslike ekonomie te ontwikkel en werksgeleenthede te skep. Dit is ons belangrikste doelwit.”
Die boere ontvang ook gereeld opleiding in onder meer rekordhouding van produksie en geldsake, die verwerking van landbouprodukte, asook dieregesondheid en -produksie.
“Van die boere hoop om eendag hulle eie plase te besit,” sê Recardo. “Maar op die oomblik het hulle meer hulpbronne nodig wat hulle sal help om hulle landboubedrywighede volhoubaar voort te sit en suksesvolle landbouondernemings tot stand te bring.”
Maar al wat hulle eintlik vra, is water…