Jou wapenlisensie is nou geldig

jag
Die Hooggeregshof in Pretoria het twee artikels (artikel 24 en artikel 28) van die Vuurwapenbeheerwet ongrondwetlik verklaar en beslis dat alle wettige vuurwapenlisensies wat verval het of binnekort sal verval, geldig sal wees totdat die Grondwethof die artikels hersien het.
Die hofaansoek is in die guns van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging beslis.
Die regering is 18 maande gegee om die wet te wysig om aan die grondwetlike beginsels te voldoen. ‘n Kostebevel is ook ten gunste van SA Jagters uitgereik. Dit is die tweede keer wat SA Jagters suksesvol is in regstappe in die belang van alle vuurwapeneienaars.
Die uitspraak is ‘n groot oorwinning vir SA Jagters, wat al in Maart 2016 ‘n aansoek teen die minister van Polisie ingedien het waar die grondwetlikheid van artikel 24 en 28 bevraagteken is en die vertolking daarvan deur die polisie.
SA Jagters se besturende direkteur, Fred Camphor, is baie bly hieroor: “Ons het presies gekry waarvoor ons gevra het. Ongeveer 200 000 vuurwapeneienaars of dalk nog meer kan verlig wees dat hulle nou weer wetlik in besit van hulle vuurwapens is. Hierdie is ‘n oorwinning vir SA Jagters en ‘n rede hoekom vuurwapeneienaars ‘n lid van die SA Jagters moet word.”
Die hofuitspraak volg na die SAPD se arbitêre hantering van die laat aansoeke vir die hernuwing van vuurwapenlisensies tussen 2011 en 2016.
Die ander regstappe wat SA Jagters ingedien het was in Junie 2009 toe hulle twee aansoeke teen die SAPD in die Gautengse Hooggeregshof gebring het om te versoek dat sommige van die tussentydse regulasies van wet 60 ongrondwetlik verklaar moet word.
Die hof het ten gunste van SA Jagters beslis in die dringende aansoek en het alle lisensies, wat kragtens die ou Wet (ook bekend as die ou groen lisensie) uitgereik is, geldig verklaar totdat die hofaansoek hanteer is. Duisende vuurwapeneienaars het vervolging vrygespring. Die hoofaansoek is nooit aangehoor nie, aangesien die SAPD nie daarop reageer het nie.
Dié week se uitspraak by die Gautengse Hooggeregshof bring groot verligting vir vuurwapeneienaars wat aan die wet voldoen, maar slegs vergeet het om hulle lisensies te hernu en wat vir ‘n regverdige stelsel vra om hulle lisensies te hernu en ‘n vuurwapen te besit. Hierdie beslissing is nie die einde van die stryd nie, maar die begin om praktiese wetgewing in werking te stel wat in belang van elke persoon is om ‘n vuurwapen te besit.
Fred het dankbaarheid teenoor die lede van die SA Jagters uitgespreek oor hulle lojale, finansiële en morele ondersteuning: “Ons het ook baie ondersteuning van ander organisasies en lede van die publiek gekry en ons is dankbaar vir al hierdie ondersteuning gedrurende die afgelope 15 maande.”
Bron: SA Jagters