Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 18th April 2018

Jannie se hark sal hou!

By 3 min read
615 words

jannie 1

Myburgh Toerusting se vernuftige nuwe swaardiens-sestolhark sal by NAMPO beskikbaar wees teen slegs R30 000 + BTW.

“Enige boer wat al met ‛n viertolhark gesukkel het, sal verstaan waarom ‛n nuwe, beter ontwerp nodig was,” sê Jannie Myburgh van Myburgh Toerusting. Jannie is ‛n boereplanmaker wat van die grond af boontoe werk. Hy sien of ervaar ‛n probleem op die plaas, of luister hoe ander boere kla, ondersoek die probleme en behoeftes en ontwikkel dan ‛n masjien om boerdery makliker te maak.

Sy jongste produk wat hy by NAMPO gaan bekendstel is ‛n swaardiens-tolhark, of eintlik ‛n reeks tolharke, want ‛n boer sal sy basiese hark kan uitbrei van vier tot ses tolle aan dieselfde raam. Jannie sê een van die grootste problem wat boere met ‛n viertolhark het, is dat dit sommer baie maklik breek en dan sit jy met ‛n lendelam ding. Gewone tolharke het te veel bewegende dele wat maklik uitslyt en voor jy jou oë kan uitvee lê daar meer hooi langs die windry as in die windry.

Hier is so ‛n paar van die verbeterings wat hy aangebring het:

– Die hoofraam is ‛n stewige vaste konstruksie wat aan die trekker se driepunt koppel.

– Die hele masjien loop knus agter die trekker en volg dus die kontoere saam met die trekker indien ‛n land ongelyk is.

– Daar is ‛n uitstekende gewigsverspreiding van die middel van die hark se hoofbalk af.

– Die hele masjien loop aan die linkerkant van die trekker, waar die ingevoerde harke gewoonlik regs loop. Dit beteken makliker padvervoer, want in Suid-Afrika ry ons links, so nou kan die trekker se wiele op die pad wees en die hark links oorsteek in plaas daarvan dat die trekker half van die pad af moet ry.

– Baie boere wat op intreevlak net ‛n viertolhark kan bekostig, kan nou vir minder geld en dieselfde trekkerkrag ‛n sestol koop en gebruik, wat hom dadelik 50% meer werksvermoë gee. Die hark se prys is hoër per tol, maar gaan baie langer hou.

– Die grootste verandering is dat elke tol aan sy eie veer hang. Die raam is star, maar die arm met die tol aan kan beweeg en meegee as daar iets in die pad is.

– Die buste aan die draai-as van elke tol is vervang met wiellaers. Hulle hou baie langer en is makliker om te vervang.

Elke tol is aan sy eie arm gemonteer met ‛n veer vir wegbreek om skade aan vingers te bekamp.

Jannie sê die tolle self gaan ook vernuwe word met 80 vingers in plaas van die gewone 40 vingers. Die tol gaan dus skoner hark en omdat daar so baie vingers is, is daar minder druk op elke vinger sodat dit minder breek. Die sestol-inlynhark sal by NAMPO gereed wees, maar Jannie gaan ook dieselfde tegnologie inspan vir die groter V-raamharke. Hy sê hy bou masjiene vir Suid-Afrika en ook vir die plaaslike operateurs en daar moet so min as moontlik stelplekke en hidroulika wees, want dit is waar goed verkeerd gaan en breek. Kleiner boere of groot boere wat nie honderde hektare se hooi maak nie, kan nie of wil nie R100 000 uithaal vir ‛n hark nie. Myburgh Toerusting se sestolhark kos net R30 000 + BTW!

“Hierdie hark is groter as jou standaard intreehark, en omdat dit minder kos is dit binne die bereik van kleiner boere en sal jou ook verskriklik lank hou,” sê Jannie.

Bel Jannie Myburgh by 082-417-0175, stuur ‛n e-pos na mybtoer@gmail.com of besoek www.mtoer.co.za vir meer inligting oor die hark en al die ander boereplanprodukte van Myburgh Toerusting. Kyk ook na die video op Myburgh Toerusting se facebookblad.

Let op die eenvoudige, maar stewige struktuur van die vaste raamwerk wat die hark knus agter die trekker laat loop.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0