Jakaranda Landbouskou bring landbou na die hartjie van Pretoria.

Jakaranda skou
Die Jakaranda Landbouskou is vanjaar 75 jaar oud en beloof om vir boere landswyd asook vir die stadsjapies van Pretoria ’n asemrowende geleentheid te bied met blootstelling aan die volle landbouspektrum.
Die skou het oor die afgelope paar jaar sterk gegroei nadat vorige uitdagings en probleme uitgestryk is en sal vanjaar twee keer so groot en twee keer so lekker as in die verlede wees. Die Tshwane Events Centre is weereens die gasheer vir een van die grootste landbougebeurtenisse in Suider-Afrika. Die Landbouskou wat van 26 tot 29 Augustus gehou gaan word, is ‘n toonvenster van dit wat tans opslae maak rakende landbou, die wildbedryf, landbou toebehore, plaasdiere, boerdery, alternatiewe energie, organiese landbou en vele meer.
“Vir die afgelope 75 jaar het die Pretoria Skou en nou die Jakaranda Landbouskou ‘n belangrike platform vir boere en die landbougemeenskap gebied om te vergader, te netwerk en die landboubedryf in Suid-Afrika te bevorder. Ons wil hierdie trotse tradisie behou en daarop voortbou. Ons het regtig hard gewerk om seker te maak dat ons uitstallers en besoekers ‘n unieke ondervinding beleef,” sê Petro Ferreira, die nuwe skoubestuurder.
Die vier dae lange uitstalling maak ook voorsiening vir ‘n gespesialiseerde besigheids-tot-besigheids platform om sodoende sakegeleenthede vir die boere en die landboubedryf in Suid-Afrika daar te stel. Vanjaar is die fokus ook weereens om die unieke en diverse vee-soorte, wat die room van Suid-Afrika se beeste, skape, bokke en natuurlik ook die oulike geveerde spesies insluit, ten toon te stel.
Die wildboerderybedryf geniet ook veral aandag en ‘n 3-dag lange konferensie word aangebied wat spesifiek daarop gemik is om nuwe boere wat tot hierdie groeiende afdeling van die landboubedryf wil toetree te bemagtig.
‘Ons het regtig ‘n lekker verrassing vir diegene wat die werkswinkels gaan bywoon,’ se mev. Ferreira.
Behalwe die stampvol skouperd program wat in twee arenas gaan plaasvind, vind die Jakaranda Star Stallion kompetisie ook op Saterdag, 29 Augustus plaas. Die Skou vind in die agterplaas van die Blou Bulle plaas en daarom is dit ook natuurlik dat die die ‘Blouste Blou Bul’ kompetisie weereens gaan plaasvind.
Nog ‘n groot trekpleister is die lewendehawe-uitstalling in Saal L, waar nagenoeg 40 soorte plaasdiere uitgestal gaan word.
SABC 2 se aktualiteitsprogram, Living Land, sal weer in samewerking met die plaaslike regering en die Landbank ‘n werkswinkel vir ontluikende boere aanbied. Meer as 2000 ontluikende boere van vier provinsies sal die skou bywoon.
‘Ons jeug word ook nie oorgesien nie. Die 2015 Toekomstige Boerejeugskou bied vir 450 jong boere van landbouskole in vyf provinsies die geleentheid om hulle staal te wys,’ se mev. Ferreira.
Alhoewel die fokus van die Skou op landbou is het die organiseerders seker gemaak dat daar ook aktiwiteite vir die hele gesin is. Die Agrifem Saal, wat op vrouens in landbou gefokus is, sluit ‘n boeremark, vars gebak en kookdemonstrasies in. Op die laaste dag van die skou sal daar ook twee biertente en talle tradisionele geregte wees om die honger en dors te stil. ‘n Kinderafdeling sluit ‘n 5-meter springkasteel en ‘n opblaas hindernisbaan in.
Kaartjies vir die skou is by Ticketpro en by die hekke beskikbaar.