Categories: Artikels, NuusPublished On: 22nd July 2024

Île-de-France-boer wen Lamb Champs 2024

By 2 min read
386 words

DSC_0749

Almal is lief vir ’n stukkie sagte, sappige, souterige lamsvleis. Só lekker dat jy sommer jou vingers wil aflek. Om nie eers te praat daarvan as dit op ’n spit gebraai word nie! En daarom is dit geen verrassing dat Lamb Champs 2024 soveel aftrek gekry het nie.

Wanneer een lamsbroodjie nie genoeg is nie, dan eet jy maar twee!

’n Tjoppie vir elke tjokker

Hierdie jaar het Lamb Champs op Saterdag 20 Julie by die Pretoria Botaniese Tuin plaasgevind. Die dag word gekenmerk deur die wavrag vol spitte met skaapvleis op wat al van vroegdag af die lug vul met tergende geure.

Lamb Champs is ’n fees waar boere van regoor die land hulle skape kan inskryf om mee te ding vir die prys van die lekkerste vleis. Dit is ook natuurlik ’n geleentheid om Suid-Afrika se beste lamsvleisboere te vind en te vereer.

Vanjaar was daar 100 skaapboere en 50 bokboere wat meegeding het.

Teen middagete wanneer die vleis gereed is en die beoordelaars hulle ding gedoen het, kan feesgangers die spitte gaan stormloop om borde vol te laai met die land se top lamsvleis. Vanjaar se allemintige agtduisend besoekers het geëet tot hulle stampvol was.

Ander vermaak van die dag was stalletjies, speletjies en Afrikaanse kunstenaars. Die groot rugby-wedstryd van die dag is ook later op ’n groot skerm uitgesaai.

Besoekers lag lekker saam met die lammers.

Vanjaar se wenners

Die boer wat as wenner gekroon word stap weg met ’n stewige prys van R80 000 kontant, ’n brons trofee ter waarde van R85 000 en ander pryse. Die tweede- en derdeplekwenners ontvang onderskeidelik R40 000 en R15 000.

  • Eerste plek: Jason Davel (Vrystaat) wat met Île-de-France-skape boer
  • Tweede plek: Gawie van Heerden (Noord-Kaap) wat met Merino’s boer
  • Derde plek: Colene van der Merwe (Noord-Kaap) wat met Dormers boer

Jason Davel wat met die eerste prys weggestap het

In die bokafdeling ontvang die wenner ’n kontantprys van R25 000. Die eerste plek is behaal deur Danie Strauss (Vrystaat).

Die kleinspan word van jongs af geleer wat ’n skaap lékker maak.

Woon weer Lamb Champs by

Die Pretoria-fees was maar net die begin van die lam-jolyt! Moet nie die volgende geleenthede misloop waar Lamb Champs in ander provinsies plaasvind nie.

Merk jou dagboek vir die volgende datums:

  • Reitz, Vrystaat – 28 September
  • Graaff-Reinet, Oos-Kaap – 15 Desember

Ruan Venter glimlag breed in die Case-kassie

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1