Hoogs aansteeklike voëlgriep is in SA

withoender
Daar was een uitbreking van die hoogs aansteeklike voëlgriep of avian influenza van die H5N8 tipe op ‘n hoenderplaas naby Villiers.
Die siekte word hoofsaaklik deur watervoëls versprei wat dit in die hoogs aansteeklike vorm dra. Die plaas wat getref is, is naby die Vaalrivier. Dit is hoogs waarskynlik dat die siekte ook in ander dele van Suid-Afrika voorkom, veral in wilde watervoëls soos eende.
Die plaas is afgesonder en sowat 28 000 voëls word geslag. Mpumalanga se Veterinêre Owerheid is op die plaas om kwarantyn in werking te stel en te help met die uitdunning en ontsmetting van die plaas.
Die betrokke voëls is ‘n baie klein persentasie van die totale Suid-Afrikaanse hoenderkudde, maar wêreldwyd het dit al daartoe gelei dat miljoene hoenders vrek.
Hierdie virus het sy oorsprong van Europa en het al meer as ‘n jaar Europese pluimvee besmet. In Mei was dit in Zimbabwe.
Op hierdie stadium het dit nie ‘n groot impak op die hoendervoorraad nie. Dit is die eerste keer wat hierdie siekte in Suid-Afrikaanse pluimvee gekry word en die situasie word gemonitor.
Die publiek word versoek om enige waarnemings van hoë vlakke van vrektes by voëls of hoenders aan te meld.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie kan menslike besmetting van die virus nie heeltemal uitgeskakel word nie alhoewel die kanse baie skraal is.
Agri SA gee aanbevelings oor die voëlgriepuitbreking
- Was jou hande gereeld en ordentlik. Jy moet dit altyd doen nadat jy met voëls of ander diere gewerk het en ook as jy diereprodukte moet voorberei.
- Eet slegs goed gaar vleisprodukte en bly weg daarvan om ‘n siek of dier wat weens siekte gevrek het, te verkoop of te koop.
- Raadpleeg dadelik jou dokter indien jy tekens van koors wys nadat jy met voëls in aanraking gekom het.
Aanbevelings vir pluimveeboere
- Boere- en pluimveeprodusente moet hulle biosekuriteitsmaatreëls verbeter.
- Dit is belangrik om pluimvee en ander diere weg van wilde voëls te hou.
Bron: SAPA en Agri SA