Categories: NewsPublished On: 24th April 2017

Hof moet beslis of SAPD hernuwing van vuurwapenlisensies korrek hanteer

By 2 min read
463 words
SA Jagters

sa jagters

Die Noord-Gauteng Hooggeregshof beslis op 25 en 26 April oor die hofaansoek wat die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) teen die minister van Polisie oor die hernuwing van vuurwapenlisensies ingedien het.

SA Jagters se hofaansoek bevraagteken die grondwetlikheid van die Polisie en die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) se hantering van die hernuwing van vuurwapenlisensies. Dit volg nadat die waarnemende polisiekommissaris in Februarie 2016 opdrag gegee het dat vuurwapeneienaars wie se lisensies reeds verval het, hulle vuurwapens by die naaste polisiestasie moet inhandig vir vernietiging.

Artikel 24 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, Wet 60 van 2000 soos gewysig, verplig vuurwapeneienaars om hernuwingsaansoeke vir lisensies minstens 90 dae voordat die lisensies verval, in te dien. Die wet maak egter nie voorsiening vir die Polisie om ʼn besluit te mag neem oor die indiening en vernietiging van vuurwapens wanneer ʼn hernuwingsaansoek later as 90 dae voor die vervaldatum ingedien word nie.

Na raming is daar ongeveer 190 000 vuurwapenlisensies wat reeds verval het en waarvoor hernuwingsaansoeke nie ingedien is nie. Die meeste van hierdie wapens is waarskynlik handwapens wat vir selfverdedigingdoeleindes aangeskaf is. Lisensies vir handwapens is vyf jaar geldig, terwyl lisensies vir sport- en jagwapens vir tien jaar geldig is.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, sê die meeste van hierdie vuurwapeneienaars het eenvoudig net vergeet dat die lisensies verval het. “Hierdie mense is nie misdadigers nie en die wapens is ook nooit vir misdaad aangewend nie. Hulle het doodgewoon vergeet om die lisensies te hernu, net soos wat baie van ons soms vergeet om voertuiglisensies en bestuurderslisensies wat onderskeidelik na een en vyf jaar hernu moet word. In hierdie gevalle hernu ʼn persoon die betrokke lisensie en betaal ʼn administratiewe boete sonder om van sy motor hoef afstand te doen.”

Tussen 2011 en Februarie 2016, het die Polisie elke lisensie-aansoek wat laat ingedien is, (selfs so lank as 5 jaar nadat die lisensie verval het), aanvaar, geprosesseer en die lisensie hernu indien die eienaar aan die vereistes voldoen het. Volgens SA Jagters is daar duisende voorbeelde waar die SAPD lisensies hernu het wat solank as vyf jaar vantevore verval het.

Dié situasie het in Februarie 2016 verander toe die waarnemende kommissaris van Polisie alle polisiestasies opdrag gegee om geen laat aansoeke vir die hernuwing van ‘n wapenlisensie te aanvaar nie. Hy het ook beveel dat aansoekers ingelig moet word dat hulle in onwettige besit is van die vuurwapens en dit by die Polisie moet inhandig om vernietig te word.

“SA Jagters is van mening dat die Polisie se hantering van die lisensiehernuwingsproses heel moontlik onwettig is. In die hofaansoek teen die minister vra SA Jagters dat die vuurwapenwet gewysig moet word om leemtes uit te skakel. Indien SA Jagters se hofaansoek slaag, sal alle Suid-Afrikaanse vuurwapeneienaars hierby baat vind, en nie net die 40 000 lede van dié vereniging nie,” het Camphor gesê.

Bron: SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters)

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0