Hoekom dorpenaars nie regstreek krag vanaf Eskom kan kry nie

electricity
Hoewel verskeie munisipaliteite nalatig is met die betaling van hulle elektrisiteitsrekening aan Eskom, is die voorstel dat kragverspreiding van die plaaslike regering na Eskom self verskuif moet word, nie moontlik nie. Dit sal ernstige gevolge vir die staatskas hê.
So sê Eyal Shevel, sektorhoof van korporatiewe en openbare sektorgraderings by Global Credit Ratings (GCR), nadat Eskom die elektrisiteitstoevoer na die nie-betalende munisipaliteite in die Noordwes en Noord-Kaap in Januarie 2017 wou afsny.
“Sommige mense het aangevra dat agterstallige munisipaliteite beheer moet verloor oor die elektrisiteitsverspreiding aan verbruikers,” sê Eyal. “Dit is nie doenbaar nie, as gevolg van die manier wat die munisipale sektor in SA gestruktureer is. Elektrisiteitsverspreiding behels ‘n belangrike deel van die inkomste vir plaaslike owerhede.”
Hy sê die elektrisiteitsinkomste in agt metropolitaanse munisipaliteite in Suid-Afrika en 19 sekondêre stede is verantwoordelik vir 38% gemiddeld van die totale inkomste. Vir kleiner, meer plattelandse munisipaliteite, is elektrisiteitsverspreiding verantwoordelik vir ‘n kleiner aandeel van sowat 24% inkomste gemiddeld, maar kan heelwat laer as 20% wees. Hierdie inkomstebron is steeds baie belangrik.
“Die beheer van die verspreiding van elektrisiteit is ‘n groot voordeel vir plaaslike owerhede, in die sin dat mense verseker dan hulle rekeninge betaal vir al die munisipaliteit se dienste soos eiendomsbelasting en riool.
“Deur ‘n direkte skakel tussen Eskom en die kliënt te skep by die munisipaliteite, maak dit die plaaslike regering geheel en al afhanklik van die nasionale tesourie vir inkomste. Dit is onbekostigbaar vir ons ekonomie,” sê hy.
Dit sal ook ‘n enorme administratiewe las op Eskom plaas, veral op ‘n tyd wanneer hulle moet fokus op kragopwekking en instandhouding.
Twee opsies vir die probleem
‘n Afgebakende rekening of ‘n waarborg wat deur die nasionale regering verskaf word is die twee oplossings wat voorgestel word.
Met ‘n afgebakende rekening kan elektrisiteitsverbruikers betalings na die rekening maak. Geld in hierdie rekening sal dan direk aan Eskom betaal word vir die elektrisiteit wat op grootmaat gebruik word. Hierdie rekening kan Eskom die geld voorsien wat aan hulle toekom en van die geld kan dan weer aan die munisipaliteit betaal word sodra hulle skuld totaal vereffen is.
Die tweede opsie is die waarborg van die regering “wat ‘n meer toepaslike en praktiese oplossing vir kleiner munisipaliteite is,” sê Eyal.
Dit sou sien dat die nasionale tesourie Eskom direk vir die skuld van ‘n munisipaliteit betaal en dan trek hulle die syfer af van die regering se subsidies wat aan die omgewing(munisipaliteit) gegee word. Die regering se waarborg sal ‘n groter vertroue in areas gee waar daar ‘n gebrek aan finansiële beheermaatreëls is.
“Die nadeel van hierdie oplossing is dat wanneer daar ‘n tekort aan fondse of geld is, dit die beskikbare subsidie van maatskaplike behoeftes wegneem,” sê Eyal.
“Ons moet ‘n gesamentlike besluit neem om die munisipaliteit aan die stuur van verspreiding te hou, maar wat ook Eskom se boeke laat klop.”
Bron: Bizcommunity