Categories: NewsPublished On: 4th October 2016

Hier is Toyota SA/Agri SA se jongboer-finaliste van die jaar

By 3 min read
632 words
jongboer van die jaar

dsc_0422

Die laaste jongboer-finalis vir die Toyota SA/Agri SA 2016 Jongboer van die Jaar-kompetisie is pas aangewys. Die nasionale wenner sal op 27 Oktober 2016 gekies word. Dit is die twaalfde jaar dat Toyota SA die kompetisie borg. Agri SA beskou die kompetisie as van groot waarde omdat jong rolmodelle geïdentifiseer word en dit noodsaaklik is vir nuwe toetreders en ook vir die toekoms van die bedryf. Die finaliste is die room van die jongboere van Suid-Afrika. Hier is hulle:

Gauteng:  CP Kriek

Christoffel (CP) Kriek boer reeds die afgelope vier jaar op die plaas Taaibochspruit in die Fochville-omgewing en bedryf ‘n 2 000-varksogeenheid vir kommersiële doeleindes. Sy toekomsvisie vir die boerdery is om die voorkeurverskaffer van kwaliteit-varkvleis in Suid-Afrika te word.  Hy wil ‘n leidende rol in die varkvleisbedryf  speel deur vernuwing en die boerdery te herstruktureer in ‘n winsgewende en volhoubare onderneming.

Sy siening is dat jongboere die verantwoordelikheid het om met energie en nuwe denke die landbou en ekonomie te betree om sodoende die voortbestaan van die bedryf te verseker. Hy is ‘n raadslid van die Premier Varkvleis Produsente-organisasie en is betrokke by die Wes-Transvaal Varkvleis Studiegroep.

Noord-Kaap: Vickie Bruwer

Die 28-jarige Vickie Bruwer boer die afgelope ses jaar in die distrik Douglas. Die Genade-boerdery bestaan uit drie boerdery-eenhede en daar word hoofsaaklik met mielies, koring, ander gewasse, beeste en wild geboer.

Hy beskou die vestiging van ‘n volhoubare wisselboustelsel en die uitbreiding van besproeiing op die plase as van die belangrikste ontwikkelings wat hy teweeg gebring het. Om meer doeltreffend te kan boer, maak Vickie gebruik van gevorderde tegnologie soos byvoorbeeld aandrywing teen wisselende snelhede op sy waterpompe om ‘n konstante waterdruk te verseker. Hy beskou vloede en wind as van die grootste uitdagings vir sy boerdery. Om windskade te voorkom, plant hy hawer tussen sy grondbone. Sy toekomsvisie is om sy boerdery met minstens 10% per jaar uit te brei.

Vickie is van mening dat jongboere betrokke moet raak as mentors vir nuwe toetreders tot landbou. Hy is lid van die Riet-Vaal-boerevereniging en is betrokke by sy plaaslike skool se mielie- en beesprojek.

Limpopo:  PJ Strydom

Petrus (PJ) Strydom, van Marble Hall is ‘n produksiebestuurder by die Piet Engelbrecht Trusts. Die vernaamste veranderinge wat hy die afgelope vyf jaar in die boerdery teweeg gebring het, is onder meer die inwerkingstelling van bewaringsboerdery deur minimumbewerking op landerye toe te pas en die opgradering van die besproeiingstelsel.  As produksiebestuurder streef hy daarna om die beste kwaliteit en kwantiteit vrugte vir die mark te produseer.  Die boerdery se grootste vertakking is sitrus, waarna koring-, sojabone- en pekanneute volg.

Volgens PJ verseker jongboere die volhoubaarheid van die landbou. Hy dien in die plaaslike skool se beheerliggaam en is ook diaken by sy kerk.  Deur die boerdery is hy by twee opkomendeboerprojekte in die omgewing betrokke.

KwaZulu-Natal:  Neville Schefermann

Neville Schefermann is van die vierde geslag Schefermanns wat op die plaas Alford in die Khambula-distrik van Vryheid boer. Die Schefermann-gesin is wel bekend in die beesvleisbedryf vir hulle kommersiële beesvleisbesigheid danksy hulle drie-rigting kruistelingstelsel van Simmentaler-, Afrikaner- and Sussex-rasse.

Neville boer ook op 205 ha met presisie-geplante witmielies, insluitend 14 ha vir kuilvoer afgewissel met 215 ha wattelhout en 129 ha dennehout van verskeie ouderdomme. In 2014 is Neville aangewys as die NCT-Bosboukoöperasie se Boomboer van die Jaar.

Groot klem word gelê op die gebruik van tegnologie. Dit sluit in die aanwending van verteenwoordigers se kennis vir advies oor die jongste produkte en tendense, asook bywoning van boeredae en studiegroepe om te verseker dat hy deurentyd voortbou op sy kennis en om sy kennisbasis te verbeter.

Neville is ‘n aktiewe lid van sy gemeenskap en was tot onlangs sekretaris van die Khambula Boerevereniging waar hy ‘n sleutelspeler in die herlewing daarvan was. Hy dien ook op die “Gencom” van Forestry SA.

Deur Kobus Visser, direkteur, Korporatiewe Skakeling, e-agri

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0