Categories: NewsPublished On: 13th January 2016

Graanboer van die jaar 2015: “Saam knikker ons enige krisis uit”

By 3 min read
678 words

DSC_0422

‘n Skitterende eerste vir die Noord-Kaapstreek is Genade Boerdery se toekenning as Graan SA se Graanprodusent van die jaar 2015.

Genade Boerdery bestaan uit ’n pa, Vickie Bruwer, en sy drie seuns, Gerhard, Hannes en Vickie junior. Hannes boer in die Hopetown-omgewingen die res van die familie by Douglas. Hulle boer onder meer langs die Oranjerivier, Rietrivier en Vaalrivier.

Van kleins af wou hierdie broers niks anders doen as om te boer nie. Hulle glo dat vier koppe beter as een dink en daarom is daar nie ’n krisis wat hulle nie saam kan uitknikker nie. Maar al deel hulle dieselfde liefde vir boerdery, het elke broer tog sy eie aard en persoonlikheid, wat beteken dat elkeen ‘n aanvullende bydrae tot die geheel van hulle boerdery kan lewer. Al drie broers was in verskillende skole en by verskillende naskoolse instansies. Daar is een ding wat almal in gemeen het en dis hulle passie vir die boerdery

Die Bruwers boer met koring, mielies, lusern, aartappels, katoen, sonneblom, grondboontjies, pekanneute, springmielies en hou ‘n hele klompie Bonsmara-beeste aan. “Ons pas presisieboerdery toe om na lae insetkoste en hoë opbrengste te mik,” sê Hannes.

Hy sê hulle werk baie goed saam as ‘n span en elkeen speel ’n rol – ook hulle verskaffers van die chemiese mense tot kunsmis tot die koöperasies en almal wat na ure hulle fone antwoord. Saam is dit ’n spanpoging.

“Daar is ook gesonde mededinging tussen ons broers en ons almal probeer die basiese goed reg doen,” sê Hannes.

Oor die droogte wat almal in die oë staar sê Vicky dat ons ons afhanklikheid van die liewe Vader net weer besef. “Ons moet aanhou glo, bid en vertrou, en verder voer ons volstoom mieliereste vir die vee.”

Om in hierdie droogte water te bespaar, gebruik hulle die beste tegnologie beskikbaar vir hulle besproeiingskedulering, want water is ’n skaars hulpbron.

Hulle pa speel die grootste rol in die boerdery en die drie seuns kyk op na hom: “Ons pa is die groot dryfveer in die boerdery,” vertel Hannes. “Die vertroue wat hy in ons geplaas het soos ons plaas toe gekom het, het ons vinnig geleer om groot verantwoordelikheid te aanvaar. Hy wil nie hê dat ons twee keer vir iets moet betaal nie, daarom gee hy altyd raad en leiding.

“Die kleinkinders is sy rykdom; hy het vier-en-’n-halwe kleinkinders en almal is seuntjies.. Hulle kan Genade boerdery nog verder laat voortleef.

Die Bruwers bestuur hulle boerdery volgens sakebeginsels wat oor verskeie geslagte bewys iss. “My pa se oupa Faber was ’n ondernemer en tot vandag toe pas ons nog sy sakebeginsels toe,” sê Hannes.

Die Bruwers glo ook daaraan om hulle boerdery al hoe meer groen te maak. Hulle is tans besig om hernubare projekte te ondersoek. “Ons sal in die toekoms meer daaroor kan sê, want ons dink daaraan om ’n sonplaas op te rig,” vertel Hannes.

Die vrouens speel ook ’n groot rol in die boerdery en staan agter hulle mans. “Hulle behartig al die administratiewe werk en ondersteun ons in al die uitdagings wat voorkom,” sê Hannes.

Almyné, Hannes se vrou, sien ook die rol van ’n vrou in hulle boerdery om haar man ten volle te ondersteun in alles wat hy doen en baie vir hom te bid.

Elkeen het ’n rol om te vervul om die boerdery so suksesvol te maak soos die plaasbestuurders wat die las ligter maak en die plaaswerkers wat ’n groot bydrae lewer as “die ruggraat van die boerdery”, voeg Hannes by.

Die landboubedryf bied deesdae groot uitdagings, soos met die politieke besluite wat boere benadeel. Hannes glo dit sal hopelik in die toekoms beter raak, veral met die huidige droogte en voedselkrisis.

DSC_0392

Wat die nuwe jaar vir die Bruwers inhou, is ’n nuwe hoogloopspuit wat hulle aangeskaf het vir die mielieseisoen, en hulle opgegradeerde aartappeltoerusting wat gaan maak dat hulle vinniger aartappels kan uithaal.

Genade Boerdery se vier manne is gereed om in die toekoms nog hoër hoogtes te bereik en hulle sien uit na die pad vorentoe. “Alles wat ons het is Genade,” sê Hannes.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0