Goeie nuus met Obaro en SABK algemene jaarvergaderings

Obaro Uitvoerende Direksie en Voorsitter
Die bestuurspan van die Obaro-groep is Tommie de Lange, Willie Jacobs, Eben Pienaar, Nic Bronkhorst, Francois du Rand en Thys Knoetze.
Die bedryfsdireksie van Obaro het onlangs tydens die groep se Algemene Jaarvergadering goeie nuus met boere en SABK-aandeelhouers gedeel. SA Besproeiingskorporasie is die meerderheidsaandeelhouer in die Obaro Groep.
Obaro spog met rekordwinste wat die afgelope finansiële jaar bereik is, met die Obaro/SABK Lojaliteitsisteem wat gedurende 2017 ‘n totaal van R5,8 miljoen se Druppels aan SABK-aandeelhouers uitgereik het. Druppels word met aankope by Obaro verdien en word aan die einde van die finansiële jaar in SABK-aandele omgeskakel. Die SABK aandeelhouersbasis het die afgelope drie jaar vergroot van 328 aandeelhouers in 2014 na 1 782 in 2017. Obaro het verder volgehou om ‘n wesenlike komponent van wins na belasting aan sy aandeelhouers in die vorm van dividende uit te keer en die hoogste dividend in Obaro se geskiedenis is verklaar, terwyl die netto batewaarde per aandeel gedurende die 2017 finansiële jaar met ‘n stewige 17,7% toegeneem het.
Die rekord netto wins wat Obaro behaal het, kan toegeskryf word aan die maatskappy se voortdurende uitbreiding van hulle bedieningsgebied en produkreekse. Met die loods van Obaro Aanlyn en Infogro Internet Diensteverskaffing, is die Groep se kliëntebasis uitgebrei na die hele Suid-Afrika. Hoogtepunte sluit onder meer die opening van Obaro se 26ste handelswinkel in Hartbeespoort, ’n nuwe winkel in Naboomspruit en die tweede Claas Meganisasie-afdeling in Middelburg in. Obaro Landbou-adviesdienste is ook gedurende hierdie tyd wesenlik uitgebrei en sluit besproeiingsontwerp, satelliet moniteringsdienste, landbou-ontwikkelingsdienste en landboukundige en veekundige adviesdienste in.
Die Raad van Obaro Besigheidsbeleggings het daarbenewens in 2017 twee onafhanklike nie-uitvoerende direkteure, Frans Odendaal, senior advokaat en oud-waarnemende regter en Gert Kapp, voormalige direkteur by PwC verwelkom. Hierdie aanstellings is ter ondersteuning van Obaro se voortgesette verbintenis tot goeie korporatiewe bestuur.
Volgens Obaro se besturende direkteur, Nic Bronkhorst, is hierdie net die begin van die maatskappy se dryf om deurgaans welvaart vir hulle aandeelhouers te skep en boere beter te ondersteun.
“Landbou is ’n voortdurend-veranderende bedryf, wat tans sterk gedryf word deur tegnologiese verwikkelinge en presisieboerderypraktyk. Obaro beskou dit as ons verantwoordelikheid om die voortou te neem om boere te midde van uitdagende omgewingstoestande meer winsgewend te laat boer. Om te verseker dat ons ter sake en In lyn met die boer bly, moet Obaro konstant – tesame met landbou – verander,” sê Nic.
Verder voer Nic aan dat Obaro deurgaans in belang van alle belanghebbendes in die maatskappy optree.
“Boere is nog altyd die toonbeeld van goeie werksetiek, integriteit en meelewendheid. Ons glo dat as ons die regte ding doen, dit tot die regte uitkomstes sal lei.”
Bron: Obaro