Geweld teen plaasgemeenskappe moet stop

witkruismonument web
Suid-Afrika kan nie bekostig dat die geweldskultuur in die land plaasgemeenskappe verder teister nie. Plaasaanvalle en die wreedaardigheid daarvan moet deur alle Suid-Afrikaners ten sterkste veroordeel word.
“Ons dink aan duisende mede Suid-Afrikaners wat die afgelope jaar hulle lewens weens geweldsmisdade verloor het, 52 moorde per dag! Baie boere en plaaswerkers tel onder diegene wat met hulle lewens die hoogste prys betaal het,” sê Dan Kriek, president van Agri SA.
34 000 boere hanteer tans droogtes, natuurrampe, beleidsonsekerheid en moet ook aanslae op hulle lewens afweer, terwyl hulle kos produseer vir 55 miljoen Suid-Afrikaners. Een boer voed 1600 mense elke dag. Al die faktore kan oor die langer termyn voedseltekorte tot gevolg hê en daarmee saam stabiliteit in die land benadeel.
Die tyd het lank reeds aangebreek dat die publiek en regering moet kennis neem van die wreedheid van plaasaanvalle, asook die aanslag op lede van die boerderygemeenskap en daarom ondersteun Agri SA die bewusmakingsveldtog Maandag, 30 Oktober 2017 dat mede Suid-Afrikaners as blyk van meelewing swart klere sal dra.
“Boere is kwesbaar en daarom is paraatheid op huishoudelike vlak en gemeenskapsbetrokkenheid van belang om die geweldsaanslag af te weer. Een van die pilare vir gemeenskapsdeelname aan landelike veiligheid, is die in werking stel van die Landelike Beveiligingstrategie. Om proaktief te wees beteken dat die individu en gemeenskap op enige voorval bedag en gereed moet wees en dit kan slegs bereik word, wanneer boere en plaaswerkers binne georganiseerde landboustrukture betrokke is,” sê Kriek.
Binne die Agri SA groep, speel die Agri Securitas Trustfonds ‘n belangrike rol om plaasgemeenskappe teen plaasaanvalle te help beveilig. In die praktyk voorsien die Trustfonds toerusting soos kommunikasienetwerke, kamera-stelsels, misdaadbekampingstoerusting en vele meer, aan die gemeenskappe. Die fonds is ook betrokke om traumaberading te verskaf, waar gemeenskappe dit benodig.
Die Trustfonds is maar een van die instrumente wat gebruik word om plaasgemeenskappe te beveilig en Agri SA sal voortgaan met sy beïnvloedingsrol om binne die regeringsopset oplossings vir plaasaanvalle te soek. Agri SA doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap om die inisiatiewe van Agri SA te ondersteun en betrokke te raak by die groep.
Ten slotte sê Kriek, “ek is deeglik bewus van die emosionele spanning waaronder plaasgemeenskappe verkeer en dat Agri SA en sy provinsiale organisasies sal aanhou soek na oplossings om die gewelddadige aanslag teen ons boeregemeenskappe te stop.”
Bron: Agri SA