Categories: ArtikelsPublished On: 20th March 2025

Gewas AgTech Dag By Die Africa Agri Tech Konferensie Was ‘n Toonbeeld Van Innovasie En Veerkragtigheid

By 6 min read
1084 words

IMG_8549

Die tweede dag van die Africa Agri Tech Konferensie en Ekspo, wat by die WNNR konferensiesentrum in Pretoria aangebied is, is gekenmerk deur insiggewende besprekings oor disinformasie, digitale transformasie en die groeiende rol wat kunsmatige intelligensie (KI) in die landbou speel.

Met die opening van die konferensie het Jolanda Andrag, Bedryfshoof by AgriSA, ‘n fundamentele vraag aan bedryfsleiers gevra: “Wat sal van ons word, en hoe sal ons vergelyk in verhouding met die bevolkings en handelsblokke rondom ons?” Met erkenning van die uitdagings wat deur waninligting en ‘n afname in vertroue ontstaan, het Andrag ‘n beroep gedoen op volgehoue betrokkenheid en die bevordering van konsensus. Sy het egter ook optimisme oor die toekoms uitgespreek, met verwysing na landbou se kultuur van veerkragtigheid en die maatskaplike karakter wat die boerderygemeenskap verenig om teëspoed te oorkom.

Alan Hardacre, Strategiese Leier in Globale Voorspraak en Openbare Aangeleenthede. Foto: Brand Republic.

’n Sleuteltema van die dag was die impak van waninformasie in die landbou. Alan Hardacre, Strategiese Leier in Globale Voorspraak en Openbare Aangeleenthede, het die noodsaaklikheid vir boere en rolspelers in die bedryf beklemtoon om beheer oor die gegewe werklikheid te neem. “Dit was nog nooit meer belangrik om feite van fiksie te onderskei nie, maar dit was ook nog nooit so moeilik nie.”

Sensitiwiteite oor grondhervorming, voedselsekuriteit en buitelandse korporatiewe beheer van landbou, kan maklik by bestaande vrese en politieke denkrigtings inskakel. Dit het Suid-Afrika besonder kwesbaar gemaak vir waninligting-veldtogte.

Hardacre het die impak van KI uitgelig in beide die verspreiding en bekamping van waninligting, en beklemtoon dat deursigtigheid, mediabetrokkenheid en boere se eie stories van deurslaggewende belang is om openbare vertroue te bou. “Die toekomstige sukses van boerdery sal deels afhang van goeie kommunikasie. As ons nie beheer oor die uitsprake neem nie, sal disinformasie seëvier. Om eerlikheid in landbou te beskerm, is almal se verantwoordelikheid, en dit begin vandag.”

Martin Jansen, Hoof van Inligtingstegnologie by ZZ2. Foto: Brand Republic.

Wat die praktiese toepassing van landboutegnologie betref, het Martin Jansen, Hoof van Inligtingstegnologie by ZZ2, die maatskappy se benadering tot die aanvaarding van tegnologie uiteengesit. Hy het gewaarsku teen té ingewikkelde stelsels, en pleit vir standardisering en vereenvoudiging. “Tegnologie moet ‘n toonbeeld van uitnemendheid by ‘n mens inboesem. Outomatisering moet menslike vermoë verbeter eerder as om dit te vervang.”

Hy sê hoewel die koste van tegnologie aansienlik hoog kan lyk, sal die voordele om doeltreffendheid te verbeter en verkwisting te verminder, met die hulp van tegnologie tot besparings lei. “Tegnologie begin vrugte afwerp wanneer jy bemagtig word om beter besluite te neem. Die Heilige Graal van tegnologie is verbeterde produksie. As jy dit kan bereik, sal tegnologie ‘n regstreekse impak hê op jou eindresultate.”

Pieter Geldenhuys, Direkteur van die Instituut vir Tegnologiestrategie en Innovasie. Foto: Brand Republic.

Pieter Geldenhuys, Direkteur van die Instituut vir Tegnologiestrategie en Innovasie, het die rol van KI in die landbou ondersoek, en die siening weerlê dat KI en menslike intelligensie met mekaar meeding. Hy meen in plaas daarvan, moet KI beskou word as ‘n instrument wat besluitneming verbeter deur kognitiewe vooroordele uit te skakel. Hy het ontluikende tegnologieë uitgelig met die potensiaal om voedselproduksie te hervorm, soos om van outomome toerusting gebruik te maak, wat lasertegnologie inspan om onkruid sonder chemikalieë te identifiseer en te verwyder. Dit sluit ook in die gebruik van Scio Cup, wat boere in staat stel om voerkwaliteit op die grond binne sekondes te ontleed. Hy het egter gewaarsku dat KI slegs uit bestaande data ge-ekstrapoleer kan word en en nie oor onafhanklike logika beskik nie, wat beteken dat dit nooit los kan staan van die menslike faktor nie.

Mpho Mence, Volhoubare Landbou-ontleder by GreenCape. Foto: Brand Republic.

Mpho Mence, Volhoubare Landbou-ontleder by GreenCape, het bevindinge van marknavorsing oor belowende landboubeleggings aangebied. Sy het hommeltuie uitgelig as ‘n belowende tegnologie wat doelgerigte, presiese chemiese toediening moontlik gemaak het, terwyl verkwisting verminder word.

Mence het ook gewys op die sukses van tonnelboerdery met hidroponiese stelsels. Proewe van tamatieproduksie het getoon dat opbrengste in oop landerye 60 ton per hektaar lewer, maar dit het tot 236 ton per hektaar vermeerder wanneer dit in tonnels geplant is. Deur die gebruik van hidroponiese stelsels in die tonnels, kan opbrengste van 392 ton per hektaar behaal word. Verder kan ‘n baie hoër persentasie van die produkte wat hidroponies in tonnels verbou word teen ‘n premieprys verkoop word. “Hoewel aanvanklike kapitaalkoste hoog is, kan die verhoogde gehalte en opbrengs lei tot ‘n terugbetalingstydperk van net twee jaar,” het sy gesê. “Tegnologie is nie net ‘n instaatsteller nie – dit is noodsaaklik vir die bou van veerkragtigheid en om ‘n mededingende en volhoubare landbousektor te verseker.”

Die dag se besprekings het ook op leierskap in die tegnologiese era gefokus. Mushambi Mutuma, ‘n toonaangewende tegnologiestrateeg en skrywer, het afgevaardigdes aangemoedig om hulself te ontwrig alvorens hulle deur iets anders ontwrig word. “Jou vermoë om te slaag sal afhang van jou gewilligheid en vermoë om te verander en aan te pas.”

Hy het ook beklemtoon dat dit belangrik is om mense in ag te neem met die aanneming van tegnologie. Hy het maatskappye aangemoedig om hul personeel te bemagtig met tegnologie-innovasie en die beskikbare hulpbronne van werkgewers te benut, “Tegnologie maak groei moontlik, maar wat behels dit? By elke raakpunt moet dit beklemtoon word dat dit menslike vaardighede verstewig eerder as om dit te vervang.”

GG Alcock, ‘n entrepreneur en vakkundige van die informele ekonomie. Foto: Brand Republic.

Laastens het GG Alcock, ‘n entrepreneur en vakkundige van die informele ekonomie lig gewerp op Suid-Afrika se informele sektor, wat volgens hom ‘n waarde van R750 miljard per jaar het. Hy het persepsies uitgedaag dat die informele mark chaoties of ongesofistikeerd is, en aangevoer dat dit konsekwent beter as die formele ekonomie gevaar het.

Alcock het verwys na ‘n demografiese voorbeeld binne die informele township-ekonomie, wat kulturele relevante produkte teen ‘n premie soek, en die vermoë het om daarvoor te betaal. “Ons sien informele restaurante wat ‘n R25 000-bottel Hennessy-whisky verkoop, en dit bedien saam met hoenderpote. Moenie die informele sektor net sien as ‘n lae-inkomstegroep wat goedkoop produkte wil hê nie. Raak betrokke by die sektor en toon respek want hulle is die toekoms.”

Africa Agri Tech se Gewas AgTech Dag was ‘n toonbeeld van die sameloop van tegnologie, leierskap en markinsig, wat herbevestig dat innovasie noodsaaklik is vir die toekoms van Afrika-landbou. Met uitdagings wat wissel van disinformasie tot hulpbronbeperkings, moet die sektor voortgaan om aan te pas, te belê en nuwe tegnologieë te omhels om te floreer in ‘n steeds-ontwikkelende globale landskap.

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0