UP gereed om landbou-uitdagings oor die volgende honderd jaar die hoof te bied

013_171107
Prof Anton Ströh, vise-prinsipaal: Institusionele Beplanning, Prof Edward Webb, adjunkdekaan: Navorsing en Nagraadse Onderwys, Fakulteit van Natuurlike en Landbouwetenskappe, dr Johan van Zyl, UP Landboukundige van die Eeu en HUB van African Rainbow Capital, prof Cheryl de la Rey, UP Visekansellier en Rektor en Prof Jean Lubuma, dekaan: Fakulteit van Natuurlike en Landbouwetenskappe.
Die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria (UP) het onlangs tydens ‘n galageleentheid nie alleen die honderdjarige bestaan van landbou gevier nie, maar terselfdertyd vir dr Johan van Zyl, voormalige Visekanselier en Rektor van UP en huidige HUB van African Rainbow Capital, as die UP Landboukundige van die eeu aangewys.
“Dit is dié jaar die herdenking van ‘n honderd jaar van landbou by UP. ‘n Eeufeesviering moet nie selfvoldaanheid bring nie; dit bied vir ons die geleentheid om oor die verlede na te dink, bestek te neem van die huidige en die toekoms te oorpeins. Ons moet ‘n toekomsvisie formuleer om ons gekose bestemming te bereik en die grondslag te lê vir die volgende honderd jaar van landbouwetenskap aan die Universiteit. Die Universiteit is goed geposisioneer om die uitdagings wat landbou in die oë staar, die hoof te bied,” het prof Cheryl de la Rey, Visekanselier en Rektor van UP, gesê. Prof De la Rey was een van die hoofsprekers by die amptelike eeufeesvieringe.
Dr Johan van Zyl het die kritieke rol van akademiese instansies in die toekoms van voedselproduksie beklemtoon. “Daar is ‘n paar megatendense wat die samelewing oor die algemeen en die rol van landbou in besonder sal vorm en beïnvloed. Dit sluit in die totstandkoming van megastede, vooruitgang in biotegnologie en die vierde industriële revolusie, wat tot drastiese veranderinge, ‘n nuwe norm en baie uitdagings sal lei. In landbou sentreer hierdie uitdagings hoofsaaklik op opleiding en navorsing
“Landbou is vandag baie meer kompleks aangesien dit nie meer net boederyverwante kwessies behels nie, maar ook kwessies wat met ‘n wyer ekostelsel te doen het. Ons sal van landbou as ‘n enkelvoudige dissipline moet wegbeweeg na ‘n multidissiplinêre benadering wat fokus op die groter kwessies in landbou. Ek glo dat UP goed geposisioneer is om aan te hou om ‘n leiersrol in hierdie verband te speel — byvoorbeeld, in die 2017 Center for World University Rankings beklee UP die tweede plek ter wêreld vir die studie van mikologie op grond van die navorsing wat deur die Fakulteit se Instituut vir Bosbou- en Landboutegnologie (FABI) gedoen word,” het dr Van Zyl bygevoeg.
Dr Van Zyl was een van die leidende geeste met die stigting van die Fakulteit se Nagraadse Skool van Landbou- en Landelike Ontwikkeling, en het ‘n belangrike rol gespeel in die totstandkoming van FABI by UP. Oor die afgelope paar dekades het hy ‘n merkwaardige impak op sy alma mater gehad en hy dien steeds op die UP Raad. Hy is waarlik ‘n uitstaande landbouwetenskaplike met twee doktorsgrade, meer as 300 wetenskaplike publikasies, vele eerbetonings uit die bedryf en ‘n loopbaan wat strek van die akademie tot by die bedryf en gemeenskapsontwikkeling.
Bron: Universiteit van Pretoria