Ford se verkope bly goed in Julie
Suid-Afrikaanse nuwe voertuigverkope het jaar-op-jaar bemoedigende verbeteringe in Juliemaand getoon en Ford was weer eens vanjaar ‘n sleutelspeler wat bygedra het daartoe.
Ford het ‘n 11,9% aandeel van die totale bedryfsverkope vir die maand wat op 46 719 eenhede geëindig het. Ranger-verkope het met 4,4% tot dusver in 2017 toegeneem in vergelyking met 2016. Maar in Juliemaand was die Toyota Hilux die topverkopervoertuig wat 3 100 eenhede verkoop het. Tweede was die Ranger, dan die Nissan NP200.
Die Ranger het ook sy tweede beste uitvoervolumes in Julie behaal en sy beste syfer vir hierdie jaar. ‘n Totaal van 6 452 voertuie is verskeep na markte in Europa, die Midde-Ooste en Afrika.
Julie 2017 was ook ‘n sterk maand vir twee van Ford se motors. Die EcoSport het 851 verkope gehad en die Fiesta 998. Belangstelling in Ford se Mustang bly onveranderd, met nog 62 kliënte wat verlede maand by hierdie eksklusiewe klub aangesluit het.
“Die algehele bedryfsverkope vir Julie 2017 het met 4% verbeter teenoor verlede jaar se Juliemaand,” sê Neale Hill, direkteur van bemarking, verkope en dienste vir Ford Motormaatskappy in Sub-Sahara Afrika-streek.
“Bekostigbaarheid en waarde vir geld word belangrike oorwegings vir verbruikers. Die uitdaging vir vervaardigers is om mededingende pryse en totale koste van eienaarskap te bied, terwyl hulle ook die vraag na selfs groter vlakke van gehalte, tegnologie, verfyning, doeltreffendheid en veiligheid bied. Ons glo dat ons huidige model al hierdie boksies afmerk,” voeg Neale by.
Bron: Ford Motormaatskappy