Categories: NewsPublished On: 24th May 2016

NAMPO-nuus: Elkeen in die SA veebedryf het ‘n plan om winsgewend te bly

By 3 min read
502 words

Nguni

Die afgelope twee jaar se droogtes het nie ‘n noemenswaardige invloed op die geesdriftigheid by Nampo se veekompleks gehad nie. Die skoudiere lyk gesond en gelukkig, maar die een ding wat soos ‘n paal bo water staan, is dat winsgewendheid vanuit al hoe meer hoeke bekyk word.

 

DSC_8206

PW van Heerden is die president van die Meatmaster-genootskap en boer naby Wesselsbron. Hy glo dat balans winsgewendheid beteken. “Deesdae kan jy nie meer ‘n dier net op sy bou en uiterlike eienskappe op skoue beoordeel nie. Dit help nie jou dier is skougehalte, maar dit het ‘n klomp geld gekos om hom so mooi te kry nie. Dit beteken dat die dier nie winsgewend is nie. Vir my gaan dit oor die insameling van inligting soos die GDT en voeromset en hoe vining die ooie ramgereed is.” Die Meatmaster-span is baie trots op hierdie ooi (agter) wat deur haar baas, Clynton Collett, van Collett-boerdery naby Bethulie vasgehou word. Sy het dragtig geword op sewe maande en het op twaalf maande en ses dae gelam. Die manne wat elkeen ‘n lam vashou, is Mario du Preez van Collet Farming (regs voor), PW van Heerden van Red Ribbon Meatmasters naby Wesselsbron, Nico Grobler van Kernmeatmasters naby Ventersdorp, Willie Griesel en Gerrit van Gees, beide van Wicari Meatmasters naby Kroonstad.

 

DSC_8220

“Ons ras is nou op ‘n pad van vining groei en min vetaanwas, wat die resultaat is as daar veral met Dorpers kruisgeteel word. Die verbruiker soek deesdae baie min vet aan sy vleis. Tydens die gradering van die lammers se karkasse kyk ons op watter gewig en hoeveel vet hulle uitslag. Op 23 tot 24 kilogram slag ons nog ‘n A2 en A3 uit, waar jou vetstertrasse al op 18 tot 19 kilogram ‘n A3 en A4 uitslag. Ons kan ook op vier maande tussen 22 en 25 kilogram uitslag.” So sê Gerrit Erasmus, die Ile de France se raspresident. Hy en sy vrou, Louresa, wys hoe lyk een van hulle spogramme by die Ile de France-stalletjie.

 

DSC_8184

Pieter de Klerk (links) is rasdirekteur en bemarkingspromosiebestuurder van SA Herefords. Hierdie ras is sedert 1722 geslote en is sedert 1890 in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse genootskap is in 1917 gestig en volgende jaar gaan hulle dus 100 jaar oud word. Daar word allerhande opwindende dinge vir die eeufeesviering beplan.

“Die moderne Hereford is besig om baie gewild te raak, veral by die voerkrale omdat ons so goeie voeromset het met die kos wat so duur is. Jy kan dus jou Herefords goedkoop voer. Deesdae gebeur dit maklik dat ‘n voerkraal vir ons vra hoeveel ons Hereford-boere vir ons kallers wil hê. Herefordkalfies is klein en die koeie het geen probleme met kalwing nie. Daarom gebruik die boere wat suiwelbeeste soos Jerseys en Friese het, Hereford-bulle om hulle verse oop te maak. Die Hereford  is ‘n baie aanpasbare ras, vanaf die berge van Natal tot in die Karoo,” sê Pieter. Die span aan weerskante van die pragtige diere is van Zuikerkop Herefords van Clocolan. Frans Prins is die bestuurder en Solomon Mabenjane en Mogele Masotstsa is veewerkers.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0