Eerste nuwe entstof in 26 jaar

inenting
Die eerste nuwe entstof wat die Landbounavorsingsraad (LNR) sedert 1994 vir vee ontwikkel het, ’n breëspektrum entstof vir hartwater, behoort ná 18 maande goedgekeur te wees sodat Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) dit kommersieel kan vervaardig.
Hartwater is waarskynlik die grootste ekonomies belangrike veesiekte in die land en kos die Suid-Afrikaanse veebedryf, insluitend kommersiële en opkomende boere, jaarliks sowat R220 miljoen.
Diere soos konyne hoef nie gebruik te word om die entstof te vervaardig nie, want dit kan in ’n geslote in vitro-kultuurstelsel geproduseer word.
Dr Shadrack Moephuli, uitvoerende hoof van die LNR, het die Parlement se Portefeuljekomitee vir Landbou, Bosbou en Visserye meegedeel dat toetse bewys het dat die entstof baie goed werk. Hy het die LNR se strategiese plan wat tot 2020 strek, aan die komitee voorgelê. Behalwe dat die hartwater-entstof ’n breëspektrum entstof is, bied dit ook langdurige immuniteit wat van ses maande tot lewenslank kan duur, het hy verduidelik.
Die entstof is heelwat goedkoper om te produseer en die dier hoef nie bykomend met antibiotika behandel te word nie.