Eerste jagluiperdwelpies by die Rietvlei Natuurreservaat gebore

Pic 1 Cheetahs
Die geboorte van drie jagluiperdwelpies by die Rietvlei Natuurreservaat suid van Pretoria vroeg in November 2016 het vir groot opwinding by gereelde besoekers en die personeel gesorg.
Die moeder van die jagluiperdwelpies, Kiara, het haar welpies probeer wegsteek. Slegs ‘n paar van die personeel het al die voorreg gehad om die hulle te sien en die ma en kleintjies lyk almal gesond. Hulle geslag is nog nie in hierdie stadium bekend nie.
Jagluiperds is weer by die Rietvlei Natuurreservaat in 2014 gevestig toe ‘n mannetjie jagluiperd, Sanbona, aan hulle geskenk is deur die Pretoria Oos-tak van die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging. Hule het ook geld geskenk vir ‘n elektroniese halsband om die personeel in staat te stel om sy bewegings dop te hou.
In November 2015 het Kiara en drie ander jong weeskind-jagluiperds by Sanbona aangesluit van die Welgevonden Reservaat waar hulle ma dood is aan beserings terwyl sy gejag het. Die Trust vir Bedreigde Wildlewe (EWT) se jagluiperdprojek het gehelp om ‘n nuwe huis vir die welpies te kry en die Rietvlei Natuurreservaat is as die geskikte kandidaat gekies. Dit is ‘n veilige hawe waar die jong diere kan leer om te jag.
Aanvanklik is die vier jagluiperds in ‘n boma by die Rietvlei Natuurreservaat gehou en in Januarie 2016 amptelik in die reservaat vrygestel om self reg te kom. Hulle het goed aangepas en suksesvol gejag. Na ‘n paar maande is drie van die vier jong jagluiperds na ander reservate verskuif as deel van EWT se jagluiperdprogram.
Kiara het agtergebly, want die reservaat het gehoop dat sy en Sanbona sal begin teel, maar Kiara is erg beseer is toe sy gejag het. Sy is vermoedelik deur ‘n swart wildebees bygekom. Twee beseerde tone aan haar voorklou moes afgesit word en ‘n diep wond aan haar agterbeen het ‘n rukkie gevat om te genees.
Nadat sy tyd deurgebring het in die veeartsenykunde kliniek is Kiara teruggeskuif in die boma om te herstel. Sy is maande na die besering eers weer terug in die reservaat geplaas, maar die mediese span was onseker of sy weer suksesvol sal kan jag.
Presies 12 maande na Kiara se aankoms verras sy almal met haar kleintjies.Volgens die reservaat se personeel was daar geen bewyse dat haar beserings haar verhoed het om te jag nie. Sy is in ‘n uitstekende kondisie en kyk mooi na haar welpies. Die reservaat kan net een jagluiperd teelpaar huisves en daarom sal die welpies na ‘n ander plek geskuif word sodra hulle 18 maande oud is en self kan jag.
Dieter Labuschagne, bewaringskoördineerder van die Pretoria Oos-tak van SA Jagters, sê die vereniging het ‘n jarelange verbintenis om die reservaat se bewaringsbedrywighede te ondersteun.
Tot op hede het die tak R184 000 se geld en toerusting tot die reservaat bygedra. Dit sluit in die bou van die boma in 2011, elektroniese halsbande vir Sanbona en Kiara en R30 000 vir die koop van Sanbona in 2014. Die tak samel geld in vir bewaring deur bewustheidsprojekte.
“Die Rietvlei Natuurreservaat se jagluiperd-suksesstorie is ‘n bewys dat die publiek en lede van SA Jagters kan bydra tot bewaring in hulle gemeenskappe. As jagters is ons toegewyd daaraan om die natuurlike habitat te bewaar. Rietvlei Natuurreservaat is die grootste natuurreservaat in ‘n metropoliaanse gebied in die wêreld en een van 57 bewaringsareas in Tshwane alleen,” sê Dieter.
Bron: SA Jagters en Wildbewaringsvereniging