Categories: NewsPublished On: 4th July 2016

Duisende boere en Polisiebeamptes bevorder saam veiligheid in die Vrystaat

By 3 min read
524 words

Vrystaat-Landbou-logo-275×275

Samewerking tussen boere en Polisiebeamptes in die Vrystaat het die afgelope twee weke ’n hupstoot gekry. Meer as 2 600 boere en Polisiebeamptes het saam aan twee blou-/witlig-operasies in die provinsie deelgeneem. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar is die meeste suksesse tot op hede aangeteken in verband met veediefstal. Die Vrystaat is die enigste provinsie in die land waar die operasies plaasvind.

Gedurende ’n operasie op 22 Junie 2016 het 976 boere met 658 voertuie saam met 288 Polisiebeamptes met 126 voertuie gewerk. As deel van dié operasie het onder andere beamptes en boere in die Reitz- en Tweeling-distrikte 797 plase gepatrolleer, terwyl 344 persone en 217 voertuie deursoek is.

Altesaam 1 087 boere met 753 voertuie en 347 Polisiebeamptes met 170 voertuie het ook op 30 Junie 2016, aan ’n tweede operasie in die provinsie deelgeneem. Die totale aantal boere wat die maand aan die operasies deelgeneem het staan op 2 063, en die totale aantal Polisiebeamptes is 635.

Verskeie suksesse rondom veediefstal het voorgekom, met vee wat onder andere vasgebind gevind is in die Warden-distrik en dus gered kon word, terwyl veediewe op heterdaad betrap en in hegtenis geneem is in die Botshabelo- en Tweeling-distrik. In die Koppies-, Edenville- en Clocolan-distrikte is gevalle van veediefstal voorkom. ’n Vermeede brandstigter is ook in die Kroonstad-distrik langs die N1 aangekeer. Die man was egter glo ’n ryloper wat net baie koud gekry het. Die boere op patrollie het die man versorg en huisvesting vir die aand gegee.

Die Polisie is ook dankbaar oor ’n deurbraak wat gemaak is met die arrestasie van verdagtes op Koffiefontein wat in besit van gesteelde goedere was.

Die VKB/VL Veiligheidslessenaar sê gemeenskapsveiligheidsnetwerke van die Parkweg Cluster in Bloemfontein en van Sasolburg het ook deelgeneem aan die operasie, terwyl lede van die Weermag by Wepener en SanParke by Qwa-Qwa ingeskakel het.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se Wet en Orde Komitee, sê veediefstal is die ergste in die provinsie in ses jaar, en hy is baie dankbaar vir die suksesse behaal. “Ons is baie dankbaar vir elke persoon se deelname om van die operasie ’n sukses te maak. ’n Spesiale woord van dank aan Lt Kol Johan Gelderblom, die Vrystaat se landelikeveiligheidskoördineerder van die SAPD, en ons streeksveiligheidskoördineers vir hulle harde werk, asook aan elke lid van die SAPD en boer wat aan die operasie deelgeneem het.”

Volgens Tommie is hierdie operasies ’n duidelike voorbeeld van wat vermag kan word wanneer die Polisie en boere binne die raamwerk van die Landelike Veiligheidsplan  saamwerk. “Dit is ons beleid as VL om deel van die oplossing te wees, en ons het geen ander keuse as om deel van die oplossing te wees en samewerking te bevorder nie. Ons gaan volhou met hierdie operasies om misdaad in die provinsie te domineer en veiligheid in ons landelike gemeenskappe te bevorder.”

Johan sê die Phuthaditjhaba-gemeenskap se veediefstalpatrolleerders kon vir die eerste keer aan 30 Junie 2016 se operasie deelneem, na die distriksmunisipaliteit kort voor die operasie ’n voertuig aan hulle oorhandig het vir patrollering. Die stap behoort ’n wesenlike verskil aan die situasie in die gemeenskap te maak. “Ek wil graag my opregte dank teenoor ieder en elk uitspreek vir hulle hulp en deelname aan die operasies,” aldus Johan.

Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0