Categories: Artikels, NuusPublished On: 13th February 2026

Droogte, siekte en nou vloede: Hoeveel meer kan boere verduur?

By 2 min read
350 words

VLOED

Boere in die Dr Beyers Naudé-munisipale gebied is geen vreemdelinge vir teenspoed nie. Na jare van droogte, ekonomiese druk en die voortdurende bedreiging van siektes soos bek-en-klouseer, moes boere hierdie week nóg ’n verwoestende slag verduur, hierdie keer is dit kitsvloede.

Hewige donderstorms het Donderdag verskeie dorpe soos Aberdeen, Graaff-Reinet en veral Jansenville, getref. Saam met die swaar reën het donderweer en hael binne ’n kort tydperk totale verwoesting gesaai. In sommige gebiede is sowat 100 mm reën binne net 30 minute aangemeld. Hoewel hierdie reën gewoonlik vir boere verligting sal bring, het dié donderstorms net harsteer gebring. — ’n hoeveelheid wat meer verwoesting as verligting gebring het.

Die neerslag het vinnig in kitsvloede ontaard wat vererger was deur verstopte stormwaterdreine en onvoldoende afvoerslote. Duisende diere het in die vloede omgekom, terwyl infrastruktuur, weiding en toerusting in ’n oogwink vernietig is. Vir baie boere is dit skade waarvoor daar eenvoudig nie tyd of hulpbronne was om voorsiening te maak nie.

Hierdie natuurramp is kort gevolg deur President Cyril Ramaphosa se aankondiging om bek-en-klouseer amptelik as ’n nasionale ramp te verklaar. Die siekte het reeds groot onsekerheid en verliese in die veebedryf gebring.

Waar boere reeds op hul knieë was, plaas hierdie vloede nou net verdere finansiële en emosionele druk op boere wat reeds sukkel.

Die ProagriMedia span  betuig ons innige simpatie aan alle boere wat hierdie week kuddes, inkomste en jare se harde werk verloor het. Die landbougemeenskap staan saam in hierdie moeilike tyd, maar dit is duidelik dat dringende, gekoördineerde ondersteuning nodig is.

Daar rus nou ’n groot verantwoordelikheid op die regering en munisipaliteite om nie net noodleniging te bied nie, maar ook om infrastruktuur probleme aan te spreek en langtermyn oplossings te implementeer.

Boere het reeds meer as hul deel van uitdagings in die gesig gestaar. Die vraag bly: hoe lank kan hulle nog alleen bly veg?

Waarskuwing: Die inhoud is grafies en nie geskik vir alle kykers nie. Die Facebook-video dokumenteer die werklikheid waarmee boere tans sit. Kyk hier.

Foto: Facebook Neels Cornelius Oelofse

Sondags rivier naby Waterford

Foto: Reënval SA Facebook

12

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

12