Dringende versoek aan SAPD vir taakspan langs Lesothogrens

doringdraad
Vrystaat Landbou het ’n dringende versoek aan die provinsiale Polisiekommissaris, vir die ontplooiing van ’n taakspan langs die Lesothogrens, gerig. Die versoek is reeds ook deur plaaslike boere aan die Polisie se topstrukture gerig tydens ’n vergadering by die Pekabrug-grenspos op 10 Augustus 2017.
Dit volg na ’n ernstige toename in plaasaanvalle in die omgewings van Clocolan, Ficksburg, Ladybrand en Marquard sedert Maart 2017 aangeteken is. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar het 11 van die 49 aanvalle wat reeds vir die jaar aangeteken is, in die omgewings plaasgevind. Op die oomblik is Clocolan die distrik wat die meeste aanvalle (6) nog die jaar ondervind het met 3 by Ladybrand en 1 by Ficksburg en Marquard elk. In die afgelope week het 3 aanvalle in dié gebied voorgekom – 1 by Marquard, Clocolan en Ficksburg elk.
4 plaasmoorde is tot dusver die jaar in die Vrystaat aangeteken. 2 boere en 2 werkers is vermoor. ’n Totaal van 27 aanvalle was op boere, 16 op werkers, 3 op werkers én boere en 3 op opkomende boere.
Vir dieselfde tydperk verlede jaar (2016) is 37 aanvalle en 6 moorde aangeteken. 2 boere en 4 werkers is vermoor.
Boere wil hulle dank uitspreek vir die toename in SAPD patrollies wat in die nag in die Clocolan-gebied waargeneem kan word.
’n Veiligheidsberaad vind op 2 September 2017 tussen boere en die SAPD op Clocolan plaas, vir dringende gesprekke oor die situasie tans asook om aksieplanne te bespreek.
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar