Dis jagtyd

jag
Wildsboere en ander boere wat wild of ‘n wildskamp het maak elke winter gereed vir jagters of kuiergaste wat by hulle kom jag. Jagtyd is vir die meeste boere ‘n hoogtepunt op die jaar se kalender. Dit gaan nie net oor die jag nie, maar ook oor die kuiers. ProAgri het vir ‘n paar wildplaasboere in die Karoo gevra vir ‘n bietjie raad aan jagters:
Wat is belangrik vir ‘n jagter om in te pak na sy jagveld?
Eerstens moet sy geweer reg staan, skoongemaak, ingeskiet en moet hy genoeg patrone vir die jagveld inpak. Daarna moet die jagter se ma/vrou die kospakkie gereed kry, want wat is ‘n jag sonder die versnaperings wat daarmee saamgaan? Die jagter sal dalk moontlik self die OBS inpak vir die ergste koue, maar bêre tog daai plattetjie tot na die skote geval het..
Die jagstoel of jagpootjies vir die geweer moet ook saamgaan om sy skietervaring so gerieflik moontlik te maak. Indien ‘n jagter nie een van die twee het nie kan hy die naaste miershoop soek en daarop aanlê.
Die kleredrag van die jagter is net so belangrik soos sy geweer, want hy moet by die veld inpas sodat die bok hom nie raaksien nie, hoe nader hy aan die bok kom hoe makliker is die skiet. Dus moet die jagter ‘n gekamoefleerde baadjie aanskaf. Die mus en handskoene is opsioneel vir die koue, maar as hy ver in die veld loop wil hy nie te veel goed by hom hê om te dra nie. Jagters moet ook altyd ‘n mes byderhand hou.
Ons sal dit vir die jagwinkels los om al die ander toebehore en geriefies te probeer versmous.
Daar is ook veiligheidsreëls ter sprake wanneer dit by jag kom:
Indien jagters in ‘n kamp afgelaai word om daar die bokke te gaan inwag, moet hulle ver genoeg van mekaar af afgelaai word sodat hulle nie gevaar vir mekaar inhou nie. Die jagter moet mooi uitkyk sodat hy nie dalk die perd wat die bokke aanjaag of ‘n ander dier skiet nie en indien die bakkie hom weer oplaai en na ‘n ander kamp neem moet sy geweer se veiligheidsknip op wees. Indien jy net saamgaan om te kyk, luister tog baie mooi en lê doodstil as die jagter vir jou sê dis sulke tyd!
As die bok stilstaan en die jagter skiet, waar is die beste plek om hom te skiet?
Die beste plek om ‘n bok te skiet is in sy kop. Dan het die jagter die hele bok se vleis om te bewerk. ‘n Springbok is byvoorbeeld baie klein, so skiet jy hom in sy lyf het jy baie min vleis wat jy kan bewerk. Die bok se kop word nie vir vleisbewerking benodig nie. So oefen dalk eers goed voor jy skiet, want ‘n kopskoot is die beste en maak seker die bok val na een skoot.
En nou vir die vleiswerk:
Baie boere/jagters bewerk self hulle vleis en ander neem dit na die naaste slaghuis. Watter vleis kan alles uit ‘n springbok gemaak word? Biltong, chilliebites, droëwors, springbokboud, sosaties. Die speserye speel ‘n groot rol daarin om die vleis sappig en lekker te maak.
Die vleis moet genoeg wees om te hou tot die volgende seisoen se jag.
En ‘n laaste woord:
Moenie jou goeie maniere en respek vir andere en ons lieflike veld by die huis los nie. Bring dit asb saam sodat ons almal vrede en vreugde kan hê.