Categories: NewsPublished On: 10th January 2017

Dieregesondheidsforum bekyk weerstand teen antibiotika

By 3 min read
630 words

inenting

Die vraagstuk van weerstand teen antibiotika is breedvoerig tydens die jongste vergadering van die Nasionale Dieregesondheidsforum bespreek. Die grootste bekommernis is dat daar tans geen sentrale punt is vanwaar bevindinge oor weerstandigheid gedeel kan word nie. Dit is tans die gesamentlike verantwoordelikheid van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Gesondheid. Daar sal ernstig besin moet word oor wie die proses behoort te bestuur.

Dit is ook kommerwekkend dat veeartse en die veebedrywe agtergelaat word. Verskeie vergaderings is met die mediese professie, wat nie bewus is van die werk wat veeartse doen nie, gehou.

Sommige produksiebedrywe het onlangs posisiestandpunte oor die gebruik van antibiotika in hulle praktyke uitgereik.

Tydens die vergadering is daar ook terugvoering gegee oor dr Mpho Maja, direkteur-generaal van Dieregesondheid, se besoek aan Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP). Een van OBP se uitdagings wat tydens die besoek uitgelig is, is OBP se verouderde infrastruktuur en die feit dat die meeste toerusting eers onlangs geïnstalleer is.

Produksie- en kwaliteitsprobleme is glo opgelos en die meeste entstowwe is nou beskikaar, òf op die rak òf dit is gereed om gehaltetoetse te ondergaan. Die verskillende vertolkings van “beskikbaar” is opgeklaar. As OBP sê ‘n entstof is beskikbaar, beteken dit die entstof het die groenlig gekry, maar dit is nie noodwendig al verpak en versprei nie.

Die verspreiding van entstof is bespreek en OBP het verduidelik dat die kontrak met Bayer as verspreider beëindig is. Verspreiding vind nou deur koöperasies plaas. Entstof word ook nie meer by OBP verkoop nie, behalwe aan veeartse wat dit vooraf bestel het. Dié benadering word gevolg om konflik met koöperasies wat die enstof versprei, te vermy. OBP het  ook aangedui dat hulle geen beheer het oor wat koöperasies aankoop nie.

Een koöperasie mag die hele vooraad van ‘n spesifieke entstof aankoop en so ‘n tekort in die land veroorsaak. ‘n Gebrek aan kommunikasie met kliënte, veral boere, is onder OBP se aandag gebring en daar is onderneem om ‘n maandelikse inligtingstuk uit te reik oor die beskikbaarheid van entstof.

Tydens die vergadering het OBP daarop gewys dat verskeie bewusmakingsveldtogte oor die entstof teen slenkdalkoors geloods is. OBP is ‘n lid van die Food and Agriculture Association (FAO) en die internasionale organisasie vir dieregesondheid, die OIE. Daar is oorgenoeg gegewens wat op die gevare wys as diere nie teen slenkdalkoors ingeënt word nie. Dit kom regstreeks van NASA en die voorspelling is gemaak dat die oostelike gedeeltes van Afrika se reënvalpatrone in noue verband staan met uitbrekings van slenkdalkoors. Dié voorspellings is ook na die westelike gedeeltes van Afrika uitgebrei.

Die slenkdalkoorsentstof word tans aan internasionale kliënte verkoop en nie aan Suid-Afrikaners nie. OBP het egter voorraad opgebou sodat daar genoeg van die entstof beskikbaar is. Baie dosisse entstof is aan ons buurlande verkoop. Veeartse koop dit tans in samewerking met boere aan, maar koöperasies het nie so goed op die waarskuwings oor slenkdalkoors gereageer as wat gehoop is nie.

‘n Voorstel vir die ontwikkeling van ‘n entstof teen hartwater is deur die LNR ingedien. Dit is egter nog aan die kom en ‘n entstof is nog nie vervaardig nie. Dit sal waarskynlik eers teen 2021 gereed wees vir verspreiding. Die vergadering was dit eens dat dit uiters belangrik is dat laboratoriums gereed is vir die brusellose-veldtog en die beskikbaarheid van antigene is nie onderhandelbaar nie.

Die kwessie van diere-identifikasie as een van die belangrikste steunpilare van die veeartsenykundige strategie is ook bespreek. ‘n Besprekingsdokument word  tans saamgestel en sal teen die einde van Januarie 2017 gepubliseer word. Daar word beplan dat alle lede van die Dieregesondheidsforum betrokke sal wees by die besprekingsdokument, waarna ‘n vergadering teen die einde van Februarie of Maart gehou sal word om dit te finaliseer.

Bron: RPO Bulletin Januarie 2017

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0