Categories: NewsPublished On: 1st July 2016

Die wisselvalligste landbousiklus in Senwes se bestaan

By 2 min read
393 words

senwes_logo

Die strafste El Niño-droogte in die geskiedenis het die afgelope seisoen geheers.  Dit was in  opvolging van ‘n reeds droeër seisoen in die 2014/15 jaar en is grootliks verantwoordelik vir die swakker resultate van Senwes se operasionele divisies, filiale en gesamentlike ondernemings.

Die Senwes-groep se finansiële resultate tot 30 April 2016 reflekteer ʼn omset van R9,2 miljard, ‘n toename van 5,4% met ʼn wins na belasting van R156-miljoen – ‘n afname van 36,8%, vergeleke met die vorige jaar. Die genormaliseerde wesensverdienste is 79,3 sent/aandeel (175,2 sent/aandeel – 2014/15). Goeie kontant is egter gegenereer uit die bedyfsaktiwiteite van R164-miljoen, nadat dividende en rente van R89-miljoen en R164-miljoen onderskeidelik betaal is.

Die opbrengs op ekwiteit beloop 8,5% en Senwes het gevolglik meer kapitaal gereserveer ten einde in te staan vir risiko’s.

Dividende

Die direksie het ʼn finale dividend van 20 sent per aandeel verklaar (2015 – 26 sent) vir die finansiële jaar geëindig 30 April 2016, onderhewig aan goedkeuring deur die aandeelhouers by die algemene jaarvergadering.

Belangrike Finansiële Verhoudings:

  • Verwaterde genormaliseerd wesensverdienste per aandeel is 74 sent (164 sent verlede jaar).
  • Verdienste per aandeel is 90,6 sent.
  • Opbrengs op openingsekwiteit van 8,5%.
  • ‘n Verhoging in netto batewaarde van 48,7 sent per aandeel.
  • Dividendopbrengs van 3,9% op openingsmarkprys, wat ‘n totale dividend van 45 sent per aandeel vir die jaar onder oorsig verteenwoordig.

Vooruitsigte

Weens die 32% afskaling in hektare aangeplant vir die 2016/17 bemarkingseisoen en ‘n swak oesopbrengsverwagting  op die 68% hektare wat wel aangeplant is, verwag Senwes ‘n uitdagende 2016/17 finansiële jaar. Alhoewel die verhoging in kommoditeitspryse gedeeltelik opmaak vir die verlaagde volumes, sal die produsenteklant na verwagting eers sy skuldvlakke normaliseer alvorens hy spandering op kapitaalgoedere voortsit. Voorts is heelwat insetmiddele vir hektare wat nie aangeplant is nie, reeds in die vorige finansiële jaar aangekoop en sal die kleinhandels- en direkte insetbesighede nie vanaf die normale basis hul produkte bemark nie. Die graanbesigheid sal die volle impak van die afskaling, sowel as die verlaagde oesopbrengste ervaar en boonop met ‘n baie lae oordragvoorraad die nuwe jaar moet aanpak.

Dit is ook so dat die droogte  tot ‘n mindere of meerdere mate van toepassing was in die grootste gedeelte van die somer- en wintersaaigebiede van Suid-Afrika en dat geleenthede hul ook in dié tye sal voordoen. Senwes sal intussen sy volgehoue fokus op die klant voortsit deur gekoördineerde integrasie, en deur die klant se behoeftes proaktief aan te spreek en daadwerklike besigheidsoplossings in te stel.

Bron: Senwes

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0