Categories: Artikels, WielePublished On: 20th February 2025

Die nuwe ISUZU MU-X 3.0TD ONYX 4X4 outomaties: ‘n Uitstekende alternatief

470 words

MUX side front

Ons het sopas  ISUZU  se “nuwe” MU-X 3.0TD Onyx 4×4 teruggegee na 7 dae se heerlike ervaring van hierdie gedugte 7-sitplek sportsnuts. Met ontvangs het die MU-X slegs 151 kilometer op die elektroniese odometer gewys en na meer as 1400 kilometers afgelê op teer en grond met sleep en veldry ingesluit, was ons behoorlik beïndruk.

WAT IS DIE MU-X?

Die MU-X is ‘n relatief groot sportsnuts vir die gesin met ‘n ruim prakties goed uitgelegde kajuit wat gemaklik sitplek bied aan 7 insittendes.  Isuzu bied verskeie modelle in die reeks wat kopers die keuse van 4×4 of 4×2 met handrat of outomatiese ratkasopsies bied. Verder is daar ‘n keuse tussen ‘n 1,9L of 3,0L dieselenjins, beide met turbo-aanjaging. Verskeie afwerkingsvlakke is beskikbaar met die ONYX (soos getoets) as die luukste en duurste model in die reeks. Die MU-X ding mee in ‘n hoogs kompeterende segment waar Toyota se Fortuner koning kraai. Ford se Everest (tegnies groter en duurder as  die res), met die Mitsubishi Pajero Sport en Mahindra Scorpio N as ander mededingers.

WAT BIED DIE MU-X?

Die opgekikkerde MU-X in ONYX afwerking bied ‘n sportiewe ontwerp wat aandag trek sonder om afbreuk te doen aan die tawwe avontuurgerigte voorkoms. Die 20” allooiwiele vertoon aggressief en dra by tot die 235 mm grondvryhoogte. Met tradisionele bladvering agter en ‘n uitstekende 4-trek stelsel (met lae-strek en ‘n elektroniese ewenaarslot) wat uitstekend met die 6-gang outomatiese ratkas kombineer, is die MU-X heel bekwaam in die veld.

Isuzu het die beproefde  3,0-liter turbodiesel enjin (140kW en 450Nm) behou, maar effe verfyn vir onder andere beter brandstofverbruik. Ons het gemaklik ‘n indrukwekkende 13,4 km/l behaal in ‘n gemengde siklus wat sleep ingesluit het. Die brandstoftenk kan 80liter hou.

Die netjiese 7-sitplek kajuit is ruim, prakties, modern en gerieflik en kompeteer merendeels op gelyke voet met die kompetisie wat betref afwerking en hoë vlakke van standaard toerusting ten opsigte van gerief en veiligheidstoerusting, waaronder verhitte en elektriese voorsitplekke asook leerbekleedsel. Met die 3de ry sitplekke opgeslaan bied die MUX  311liter laairuimte wat tot 1119 liter vergroot as dit platgevou is.

Die 2025 Isuzu MUX is 4850 mm lank, 1870 mm breed en 1825 mm hoog. Die wielbasis is 2855 mm met die inklimhoek 30°, vertrekhoek 26° en die oorklimhoek 24° terwyl die maksimum watery diepte 800 mm is. Die laaibak kan 675 kg hanteer met die MU-X wat maksimum 3500 kg kan sleep.

Opsomming

Die  2025 Isuzu MU-X Onyx is ‘n taai veelsydige sportsnut s wat gemaklik en bekwaam op teer en grond asook in die veld hanteer. Uitstekend toegerus in standaard gewaad met ‘n klasleidende ruim kajuit en ‘n gerieflike rit. As avontuurwa of luukse gesinskarweier sal die 2025 Isuzu MU-X 3.0TD ONYX 4×4 outo nie teleurstel nie.

Prys & Waarborg

Ingesluit by die prys van R978 200-00 is ‘n 5 jaar/120 000 km waarborg en padbystanddiens.‘n Roeswaarborg van 5 jaar/onbeperkte km asook ‘n diensplan van 5 jaar/90 000 km is ook ingesluit. Diensintervalle is elke 15 000 km.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0