Categories: NewsPublished On: 9th November 2016

Die nuutste oor damvlakke en waterbeperkings

By 3 min read
660 words
Gariepdam

gariepdam

Gariepdam

Suid-Afrikaners het rede tot kommer oor die stand van damme en moet te alle tye probeer om water te bespaar. Hierdie week het die Suid-Afrikaanse Weerdiens vir die eerste keer gesê dat bo-normale reënval vir die tydperk November tot Januarie verwag kan word. Dit kan die stand van Suid-Afrika se damme drasties verbeter, maar vir nou lyk die prentjie baie sleg.

Die gemiddelde damvlakke is met 0,5% laer teenoor verlede week en staan nou op 47,9%. Verlede jaar dieselfde tyd het die gemiddelde damvlak op 64,6% gestaan. Die departement monitor 211 damme weekliks. Op 7 November was 21 damme onder 10%, 64 damme onder 40% en 5 damme bo 100%.

Damme en stelsels

Die Vaalrivier-stelsel:

Daar is 14 damme wat hoofsaaklik Gauteng, Sasol en Eskom dien en hierdie damme het met 0,1% afgeneem en staan op 49%. Dit is die vierde week wat die stelsel onder 50% gedurende die droogte is. Die stelsel was 66,9% vol verlede jaar.

Die Katsedam staan op 37,9% en is 0,5% laer as verlede week. Die Vaaldam het met 0,2% week-vir-week afgeneem en staan op 26,2%. Die Sterkfonteindam het met 0,3% verhoog en staan op 91,8%. Die Grootdraaidam is op 66,5% en het met 0,8% afgeneem. Waterbeperkings van 15% vir stedelike gebiede en 20% vir besproeiing bly in plek.

Om die Vaaldam te beskerm teen ‘n minimum vlak van 25% het die departement op 7 November die Sterkfonteindam se sluise oopgemaak om water na die Vaaldam te stuur. Die hoeveelheid water wat vrygestel sal word, word ook verhoog van 180 tot 203 miljoen m3. Dit sal die Sterkfonteindam met 7,8% laat val.

Vanaf 2 November 2016 was daar ‘n merkbare verbetering met die bereiking van die teiken van 15% vermindering in waterverbruik, die groter Pretoria bereik 14,8% net soos Mogale City, Govan Mbeki, Rustenburg, Merafong, Victor Kanye en Ngwathe. Johannesburg het net 9,7% behaal.

Algoa-stelsel:

Vyf damme dien Nelson Mandelabaai. Hierdie week was daar ‘n 1% afname en staan die stelsel op 67,3%. Verlede jaar hierdie tyd was die stelsel op 100%.

Amathole-stelsel:

Ses damme dien die Buffalo City Metropolitaanse Munisipaliteit. Hierdie week was daar ‘n 0,1% verhoging en staan die stelsel op 77%. Verlede jaar hierdie tyd was die stelsel op 99,7%.

Kaapstad damstelsel:

Ses damme dien hoofsaaklik die groter Kaapstad. Hierdie week was daar ‘n afname van 1,2% en staan dit op 58,7%. Die stelsel was op 69,7% dieselfde tyd verlede jaar. Die Voelvleidam het 0,5% gesak en is tans op 69,1%. Die Clanwilliamdam is met 2,7% laer en is tans op 95%.

Die 20% waterbeperkings vir huishoudelike- en landbougebruik is in plek vir die Kaapstad-stelsel.

Umgeni damstelsel:

Vyf damme dien hoofsaaklik eThekwini en Msunduzi. Die week is die stelsel met 0,2% op en staan op 44,3%. Verlede jaar hierdie tyd was die stelsel op 64,2%. Hazelmere is op 68,5% en het met 1,1% verhoog. Die Nageldam staan op 69,4%. By die Midmardam is daar ‘n verhoging van 0,7% en hy staan nou op 48,6%.

Beperkings van 15% vir huishoudelike, 50% vir besproeiing en 15% vir nywerhede is in plek. Oor die algemeen word beperkings nagekom.

Ander KZN damme wat laag is:

Klipfonteindam staan op 10,4% en is laer met 0,5%,  Hluhluwe is op met 0,1% en is nou 20,9% en Goedertrouw is op met 18,2%. Die stabilisering van hierdie damvlakke is as gevolg van die kus se reën die afgelope week. Die huidige beperkings vir die Goedertrouwdam sal op 15% vir nywerhede, 40% huishoudelik en 80% besproeiing bly.

Oranjerivier:

Die Gariepdam staan op 47,4% met ‘n afname van 0,9% en die Vanderkloofdam is op 60,7% met ‘n afname van 0,9%. Waterbeperkings van 10% vir stedelike- en 15% vir besproeiingsgebruik, insluitende oorplasings uit die Oranjerivier, is ingestel.

Polokwane-stelsel:

Daar is twee damme met ‘n afname van 0,8% en staan tans op 28,3%. Waterbeperkings van 20% is in plek.

Crocodile west-stelsel:

Daar is ses damme wat Pretoria, Madibeng en Rustenburg dien. ‘n Afname van 0,3% het plaasgevind en die stelsel staan op 79,8%. Die stelsel was op 77,2% dieselfde tyd verlede jaar.

Bloemfontein-stelsel:

Vier damme dien hoofsaaklik die groter Bloemfontein. Die week het dit verhoog met 0,8% en staan dit op 35,5% teenoor die 30,1% van hierdie tyd verlede jaar. Die Welbedacht-dam is laer met 13,3% en staan op 110%. Dit is as gevolg van reën in die gebied. Waterbeperkings van 30% vir stedelike- en 75% vir besproeiingsgebruik is in plek. Besproeiingsbeperkings van 100% is vir water uit die Lesotho Hoogland gestel.

Bron: Departement van Water en Sanitasie

Foto: Gariepdam

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0