Categories: NewsPublished On: 6th October 2016

Die Karibadam hou groot gevaar in

By 2 min read
343 words
Karibadam

karibadam

Die Karibadam wat bekend gestaan het as “one of the engineering wonders of the world” kan moontlik as gevolg van krake ineenstort. Hierdie dam is in 1959 voltooi, is 128 meter hoog, 579 meter wyd en staan bekend as die wêreld se grootste mensgemaakte meer en water reservoir. Die dam is ook die grens tussen Zimbabwe en Zambië.

Deur die jare het water deur die dam se ses sluise gevloei en ‘n drie-honderd voet diep dompelpoel uitgekalwe waar die turbines se water uitvloei. Die poel is nou minder as 130 voet van die grondlegging van die dam. As dit die fondament bereik, sal die dam in duie stort.

Drie miljoen mense wat in die vloed se pad woon sal sterf of hulle gewasse en besittings verloor.

Alreeds in Maart 2010 is daar 130 000 mense stroomaf ontruim nadat hulle meer sluise van die Kariba as gewoonlik moes oopmaak omdat die watervlakke gestyg het. Hulle het reeds toe al krake in die damwal opgemerk.

Die Kariba bevat soveel water soos 23 Vaaldamme, beheer 90% van die rivierafvoer van die Zambezi-rivier en het oor die laaste vyf dekades die ekologie en die klimaat van die streek drasties verander.

Volgens ‘n berig in die New Yorker vroeër vanjaar  is die Karibadam in ‘n haglike toestand.

Mosambiek is reeds een van die lande van Afrika wat die meeste aan vloede blootgestel is. Die Zambezi-rivier waarin die dam se water loop, is die vierde langste rivier in Afrika met meer as 2 500 kilometer en die grootste rivier wat in die Indiese oseaan invloei. Indien die damwal breek sal die stortvloed vier keer groter wees as die grootste aangetekende vloed van die Zambezi in 1958 en Mosambiek sal in die pad wees.

‘n Artikel in The Citizen voeg by en sê dat tyd sy tol op die landmerk geëis het, met sy betonmure wat swel as gevolg van stadige chemiese reaksies wat die vloei van water deur die sluise bedreig.

Die herstelwerk van die dam, wat dringend aandag sal moet geniet voor mense as gevolg hiervan sterf, sal na raming R2,7-miljard kos en ses jaar neem.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0